Agriculture
7 nuwe BKS-gevalle in Vrystaat bevestig─── 14:00 Fri, 17 Oct 2025

Die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het sewe nuwe gevalle van bek-en-klouseer (BKS) in die provinsie bevestig.
Ses van die gevalle is in die Viljoenskroon/Vredefort-gebied en een in Sasolburg. Die bevestigde gevalle in die Vrystaat is nou altesaam 49.
Volgens die departement is daar tans agt afsonderlike uitbreekgebiede in vyf plaaslike munisipaliteite:
- Kroonstad (Moqhaka) – 10 bevestigde gevalle
- Viljoenskroon/Vredefort (Moqhaka) – 25 bevestigde gevalle
- Deneysville (Metsimaholo) – 1 bevestigde geval
- Cornelia/Frankfort (Mafube) – 7 bevestigde gevalle
- Heilbron (Ngwathe) – 2 bevestigde gevalle
- Edenville (Ngwathe) – 2 bevestigde gevalle
- Odendaalsrus (Matjhabeng) – 1 bevestigde geval
Enting en bewegingsbeheer
Die departement sê inenting op die besmette plase het onmiddellik begin om die virale lading te verminder en verdere verspreiding te beperk.
Alle plase binne ’n 10 km-radius van bevestigde gevalle is onder kwarantyn geplaas, met streng beperkings op dierebewegings. Plaaslike staatsveeartse voer tans toesig en monitering uit om moontlike nuwe gevalle op te spoor.
Boere gewaarsku teen onwettige dierebewegings
Die departement waarsku dat enige beweging van diere onder kwarantyn, sonder die nodige dokumentasie, ’n strafbare oortreding is.
Boere, veeveilings en spekulante word herinner aan die bepalings van die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) en die Staatskoerant No. 51512 van 13 Junie 2025.
Landbouers word gemaan om:
- die beweging van spleethoewige diere te beperk,
- streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas, insluitend ontsmetting van voertuie en toerusting,
- nuwe diere vir 28 dae te isoleer voordat hulle by bestaande kuddes gevoeg word, en
- alle verdagte gevalle (oormatige speeksel, mondletsels of mankheid) onmiddellik by die plaaslike staatsveeartsenykantoor aan te meld.
Samewerking noodsaaklik
Die departement beklemtoon eensgesindheid, deursigtigheid en samewerking tussen boere, bedrywe en die regering is noodsaaklik om die uitbreking te beheer.
“Om stil te bly, verleng net die uitbrekings en stel die herstelproses terug.”
Die departement doen ’n beroep op alle betrokkenes om saam te werk sodat die siekte doeltreffend beheer en uiteindelik uitgeroei kan word. Hoe langer kwarantynmaatreëls in plek bly, hoe erger is die ekonomiese verliese vir die Vrystaat se veesektor.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri mvh