Agriculture
Meer saad gesteel in Vrystaat en Noordwes – kunsmis, chemikalieë dalk volgende─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 22 Oct 2025

Boere in Noordwes en die Vrystaat het die laaste maande deurgeloop onder ’n vlaag goed beplande saaddiefstalle en verliese wat meer as R2,5 miljoen beloop.
In die jongste voorvalle by Lichtenburg, Bethlehem, Warden, Ventersburg en Viljoenskroon is groot hoeveelhede mielie- en sonneblomsaad gesteel. “Grootskaalse saadprodusente wat groot volumes saad koop en opberg, word geteiken,” sê Jurg Kruger, voorsitter van E2 (Eyes and Ears) Vrystaat.
“Daar is tans ’n tekort aan saad; groot saadmaatskappye se voorraad is reeds uitverkoop.”
Dit skep ’n tekort aan saad en ook ’n gunstige mark vir georganiseerde misdaadgroepe om op hierdie boere toe te slaan. Intelligensie dui daarop dat sindikate waarskynlik nou gifstowwe en chemikalieë gaan teiken wat boere aankoop vir grondvoorbereiding.
“Landbouers word deurlopend geteiken vir alle produkte – van diesel en saad tot kunsmis en chemikalieë,” waarsku Kruger.
Die verliese in die landbousektor is reeds groter as dié van die kontant-in-transito-bedryf. Dit het ’n enorme uitwerking op die land se ekonomie, wat nog nie besef word nie.
E2 doen ’n dringende beroep op produsente om hulle bergplekke te beveilig met bykomende maatreëls soos sekerheidskameras, alarmstelsels, bewegingsligte, toegangsbeheer en fisieke versperrings – sommige produsente het reeds hul pakhuisdeure toegesweis tot ná planttyd.
Eyes and Ears (E2) het al verskeie suksesvolle inhegtenisnemings uitgevoer. Foto: Verskaf
“Boere moet waaksaam wees vir enige vreemde voertuie of individue in hul omgewing,” sê Kruger. “Maak notas van registrasienommers, neem foto’s, vra vir identiteitsdokumente en moenie huiwer om klagte van betreding in te dien nie.
“Gevalle is bevestig van interne inligting wat uitlek.” Produsente word aangemoedig om werknemers integriteitstoetse te laat ondergaan, hul agtergrond na te gaan en tydelike werkers volledig te registreer.
Sindikate wat by saaddiefstalle betrokke is, werk oor provinsiale grense heen, wat ondersoeke bemoeilik. Die E2-inisiatief, in samewerking met die SA Polygraph and Investigation Services speel reeds ’n groot rol in die koördinering van ondersoeke.
Goeie samewerking
“Ons het die afgelope vier jaar verskeie suksesvolle inhegtenisnemings gehad danksy goeie samewerking tussen boere, die polisiediens en privaat intelligensienetwerke, maar doen ’n beroep op boere om deel te vorm van hulle plaaslike veiligheidstruktuur.
“Diefstalle sal waarskynlik voortduur tot diep in Desember, soos wat tendense van vorige jare bewys, en die enigste verdediging is waaksaamheid, samewerking en koördinasie.”
• Die E2-inisiatief is ’n baanbrekende, amptelike misdaadbekamping-vennootskap tussen die polisie, Business Against Crime SA, die privaatsektor en ander goedgekeurde rolspelers in wetstoepassing.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs