On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer versprei in Vrystaat, VL vra waaksaamheid

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 22 Oct 2025

Bek-en-klouseer versprei in Vrystaat, VL vra waaksaamheid | News Article
Vrystaat Landbou vra waaksaamheid en samewerking van boere. Foto: Pexel.com

Die departement van landbou het tydens ’n gesamentlike operasionelekomitee-vergadering oor bek-en-klouseer bevestig Sasolburg is tot ’n nuwe besmette gebied verklaar.

Die departement van landbou het tydens ’n gesamentlike operasionelekomitee-vergadering oor bek-en-klouseer bevestig Sasolburg is tot ’n nuwe besmette gebied verklaar. Die Viljoenskroon/Vredefort-gebied het intussen ook ’n geval by Parys aangemeld. 

In Kroonstad word gewag op die uitslag van ’n verdagte geval, terwyl ander reeds negatief getoets het.


Die tweede rondte inentings behoort volgende week in sekere gebiede afgehandel te wees. Luidens terugvoering wag abattoirs in dié gebiede op goedkeuring om weer met uitslag te begin.

Plase onder kwarantyn kan eers ses weke ná volledige negatiewe uitslag en ontsmetting opgehef word, soos onlangs by Deneysville. 

Sedert die uitbreking in 2022 en die huidige toename in gevalle, is duisende dosisse entstof reeds in die Vrystaat toegedien. Die departement bevestig geen newe-effekte is nog aangemeld nie.

Bek-en-klouseer gevalle verhoog in die Vrystaat, VL vra waaksaamheid  Foto: Pexel.com

Friedl von Maltitz, Vrystaat Landbou se vise-president, het die vergadering daaraan herinner VL het reeds verlede jaar voorgestel vee wat oor provinsiale grense vervoer word, mag slegs met ’n veeartspermit en nie bloot met ’n eienaarsverklaring geskuif word nie.

Die Viljoenskroon-gebied bly die ergste geraak. Altesaam 25 bevestigde gevalle en nog 15 moontlike gevalle het in die rigting van Vredefort versprei. 

Gebiede waar nuwe gevalle aangemeld word, toon boere meld vinnig enige verdagte gevalle aan, wat help om dié siekte se verspreiding te keer.

Waaksaamheid en samewerking

“Boere wat nie die simptome van bek-en-klouseer betyds aanmeld nie, stel die opheffing van kwarantyn ernstig in gevaar en verhoog die risiko van verdere besmetting”, sê Von Maltitz.

As enige besmetting vermoed word, kan die boer eenvoudig ’n foto of video aan sy plaaslike veearts of dieregesonheidstegnikus stuur; so word elke boer gehelp om die Vrystaatse veesektor te beskerm.

VL doen ’n ernstige beroep op alle boere om waaksaam te bly en saam te werk met die departement van landbou in die poging om die verdere uitbreking en verspreiding te voorkom.

OFM Agri/Isabel van Tonder  mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.