Agriculture
Goudveld-Hoërskool kweek landbouers─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 23 Oct 2025

Goudveld-Hoërskool is ’n skool in Welkom wat ernstig is oor landbou en aan leerders verskeie landbougeleenthede bied.
Goudveld-Hoërskool is ’n skool in Welkom wat ernstig is oor landbou en aan leerders geleenthede bied wat hulle aan verskeie boerdery praktyke blootstel en sal bemagtig om suksesvol op die plaas of werkswinkel te funksioneer. 2026 is egter ’n jaar van nuwe landbouvakke, naamlik landboubestuurspraktyke, landboutegnologie en landbouwetenskappe.
Die drie nuwe vakke sal volledig ingevoer word en deel uitmaak van die keusevakke wat graad 10’s kan neem. Landboustudies is volledig en suksesvol geïmplementeer vir gr. 8- en 9-leerders waar hulle kan kies tussen landboustudies of skeppende kunste.
Landboustudies is egter ’n dinamiese vak waar die leerders oor gewasse, aanplant van gewasse, diereproduksie en die finansiële aspek van landbou kan leer.
Die skool het begin verlede jaar ’n groentetuin aangeplant, en leerders is verantwoordelik vir die versorging daarvan en ’n optimale oes aan die einde van die jaar. Turg-Ag het ’n besproeiingstelsel aan die skool geskenk, wat sake vergemaklik.
“Gewasse is nie die enigste spesialisrigting vir die leerders nie, maar het die gr. 8‘s en 9’s ook praktiese skaap en beeshanteringssessies. Tydens die beeshanteringsessies word daar ook beeste gebrandmerk, oorplaatjies ingesit en parasietbehandelings toegedien,” sê Lize-Marie Coetzee, een van die onderwyseresse.
Goudveld-Hoërskool in Welkom. Foto: Facebook
Die departement van onderwys het vanjaar ’n groentetonnel aan die skool geskenk, waar leerders meer kan leer oor intensiewe gewasproduksie en ontkieming van saailinge.
Landboubestuurspraktyke gaan hand aan hand met landboustudies, en word groot sorg aan die dag gelê om leerders te leer om ’n boerdery te bestuur en wat die verskillende praktyke behels. “Ons is opgewonde want leerders gaan in 2026 drie verskillende boerderypraktyke bestudeer en self toepas naamlik braaikuikenproduksie, intensiewe uieproduksie asook sojaboonproduksie op dié hoërskool se eie plaas,” sê Coetzee.
Landboutegnologie is die tegnieselandbou-afdeling waar leerders meer leer in ’n werkswinkel en om voorwerpe en strukture te bou. Leerders word ook geleer om staalwerk toe doen, implemente te gebruik en reg te maak, elektrifisering van heinings, oprigting van heinings, hidroliese stelsels en ander tegniese vaardighede.
Leerders doen uitgebreide opleiding in veehantering. Foto verskaf
In die landbouwetenskappeafdeling word meer gefokus op die wetenskaplike deel van landbou. Die vak is meer teoreties van aard en gee leerders die kennis en vaardigheid om genetika te verstaan, voermonsters te ontleed, liggaamlike werking van verskeie plaasdiere te verstaan en ook chemiese stowwe en die gebruik daarvan.
“Ons skool gaan ook meer betrokke raak by Jeugskoue vanaf 2026 waar leerders ook die geleentheid gaan kry om met verskeie diere soos konyne, duiwe, beeste, perde en skape te skou. Leerders is ook verantwoordelike vir die versorging, skou voorbereiding en hantering van die diere,” vertel Coetzee.
Goudveld-Hoërskool het nog baie planne en drome om landbou verder uit te brei en glo ook in hulle leuse “kom groei in landbou, kom groei in Goudveld”.
OFM Agri/Isabel van Tondermvh