Agriculture
Onwettige afkap van bome en ontbossing plaas natuur onder druk – Bolhuis─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 28 Oct 2025
Die onwettige afkap van bome en ontbossing wat dikwels op die platteland voorkom, het ’n onomkeerbare invloed op die natuur en ekostelsels.
Suid-Afrika het ’n multimiljoenrand-bosboubedryf, wat verantwoordelik is vir 9,8% van die land se landbou-BBP en 4,9% van Suid-Afrika se vervaardiging-BBP. Die uitvoerwaarde beloop meer as R38,4 miljard.
Dié sektor is ’n sleutelbydraer tot Suid-Afrika se ekonomie en ’n groot werkverskaffer, wat meer as ’n halfmiljoen Suid-Afrikaners indirek ondersteun. Daar is egter ook ’n negatiewe kant aan hierdie statistieke.
Die aarde se woude speel ’n belangrike rol om lewe in stand te hou. Dit verskaf suurstof, bied ’n tuiste vir miljoene plant- en dierspesies, help om die klimaat te reguleer en verhoed gronderosie.
Hierdie kosbare hulpbronne word daagliks bedreig deur die onwettige afkap van bome – sonder permitte of toestemming – en grootskaalse ontbossing, om plek te maak vir landbou veeboerdery of stedelike ontwikkeling.
“Dit gaan alles oor geld; jy kan kan dink waar jy ook al ry, verkoop iemand hout langs die pad of word dele ontbos vir ontwikkeling,” sê Mike Bolhuis, privaat ondersoeker met meer as 35 jaar ondervinding en ook ’n groot natuurliefhebber.
“ ’n Mens dink nie eers twee keer daaroor nie, maar waar dit ook al gebeur maak dit die natuur baie kleiner. Fauna en flora, die lewende natuur, word verskriklik verwaarloos en mense is oningelig oor die skade.
‘Ek beskou hierdie praktyke as misdadig’
“Ek beskou hierdie praktyke as misdadig; mense wat hierdie misdade sien – of enige vorm van dieremishandeling – kan ons enige tyd skakel of dit by ons aanmeld. Misdaad teen die natuur word baie oorgesien. Dit gaan net altyd oor misdaad teen die mens.
“Ons organisasie staan vir natuurbewaring. Mense moet verder dink en ook dink aan die kuslyn. Die plastiekprobleem en besoedeling van riviere gee jou slapelose nagte. Die natuur verdwyn en dit gebeur spoedig.” Diere raak verstrengtel in rommel wat by voertuigvensters uitgegooi word, of vreet dit.
Die redes waarom mense bome afkap kan ekonomies wees. Armoede en swak wetstoepassing dra by tot die probleem. “Suid-Afrikaners moet begin opstaan teen projekte waar daar nie behoorlike impakstudies gedoen is nie. Diere en plante in daardie gebiede moet volhoubaar verskuif word.”

Suid-Afrikaners moet betrokke raak teen die misdaad om bome onwettig af te kap en ontbossing. Foto: Pexel.com
Die verkoop van hout langs die paaie geskied meestal onwettig. “Enige lewende boom word uitgekap, daar is geen regulering of identifikasie van hout en die bome nie. Natuurbewaring en die polisie is veronderstel om dit te reguleer maar dit gebeur nie.”
Misdade gemik teen die natuur geskied omdat die oortreders glo hulle sal nie vervolg word nie. “Daar behoort ’n spesiale taakspan te wees wat net vir die natuur optree. As jy nie die waarde van die natuur, insekte of plante besef nie, sal jy nie die nodige aandag gee of betrokke raak nie. En wat jy nié moet doen nie, is om nié betrokke te raak nie,” meen Bolhuis.
Die onwettige afkap van bome en ontbossing is ’n wêreldwye krisis wat die toekoms van die planeet raak. Die instandhouding van inheemse woude is noodsaaklik vir omgewingsgesondheid en om die impak van klimaatsverandering te versag.
Herstel, beskerm SA woude
Die behoefte om Suid-Afrika se inheemse woude te beskerm en te herstel – veral vanweë hul vermoë om koolstof te bind – word toenemend erken.
Die groot bome in enige omgewing beskerm talle diere en die grond daar rondom. As bome afgekap word is daar geen beskerming meer nie. “Elke grondeienaar moet omsien na die natuur op sy grond; boere weet wat is die waarde van vinkies, skilpaaie en ander kleinwild op hul grond.
“Mense moet versigtig wees met gif. Almal wil mooi tuine hê, maar die gebruik van gif kan meer nadele as voordele inhou.” Sy organisasie gryp in en doen stappe as enige onwettige praktyke aangemeld word. “Die verantwoordelikheid berus by elke mens om te begin optree.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs
