On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer-krisis in Vrystaat, boere vra optrede

───   ISABEL VAN TONDER 13:26 Mon, 27 Oct 2025

Bek-en-klouseer-krisis in Vrystaat, boere vra optrede | News Article
Bek-en-klouseer is ’n nasionale ramp wat dringend aangespreek moet word volgens VL. Foto: Pexel.com

Vrystaat Landbou (VL) neem met ernstige kommer kennis van die verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) in verskillende dele van die Vrystaat.

Volgens die departement van landbou en landelike ontwikkeling se jongste verklaring is daar nou 56 gevalle in die Vrystaat in nege uitbrekingsgebiede. Dit sluit in Kroonstad, Viljoenskroon/Vredefort, Deneysville, Cornelia/Frankfort, Heilbron, Edenville, Parys, Sasolburg en Odendaalsrus.

“Ongelukkig het die departement se versuim om bewegingsbeperkings en kwarantynsones doeltreffend af te dwing, die siekte teen ’n kommerwekkende tempo laat versprei,” sê Jack Armour, VL se kommersiële bestuurder. “Boere word toenemend geïsoleerd gelaat, sonder voldoende veeartsenykundige ondersteuning of duidelike kommunikasie van die owerheid.

Nasionale landbouramp

“Van boere word verwag om streng kwarantynregulasies en biosekerheidsbeheermaatreëls na te kom, maar hulle ontvang nie die nodige leiding, hulpbronne of professionele bystand van die regering nie.” In ’n brief wat geaffekteerde boere aan VL gerig het, beskryf hulle die situasie as “’n nasionale landbouramp”. 

“Veeboerdery is die ruggraat van (landbou in die Vrystaat) en ’n sleutelstabiliseerder van die breër landbou-ekonomie. Voortgesette bek-en-klouseerinfeksies bedreig nie net plaasinkomste nie, maar ook nasionale voedselsekerheid en landelike werkstabiliteit. 

“Soos die uitbreking versprei, is binnelandse sowel as uitvoermarkte in gevaar, met langtermyn-implikasies vir die veewaardeketting en Suid-Afrika se geloofwaardigheid as ’n handelsnasie,” sê Friedl von Maltitz, VL-vise-president.

Boere vra optrede vir bek-en-klouseer-krisis. Foto: Pexel.com

Die organisasie vra die nasionale landboudepartement sowel as provinsiale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moet dringend:

  • duidelike wetenskap-gebaseerde kommunikasie aan boere verskaf;
  • gekwalifiseerde veeartsenykundige spanne in geaffekteerde gebiede ontplooi;
  • plaaslike entstofproduksiekapasiteit by Onderstepoort herstel en verseker; en
  • nood- finansiële verligting aan geaffekteerde boere bied wat verliese ly weens kwarantynbeperkings.

Von Maltitz bevestig VL ondersteun alle wettige bewegingsbeperkings en biosekerheidsprotokolle kragtens die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) ten volle en vra boere moet die maatreëls ook nakom. 

Reëlings soos die beperking van gesplete hoefdiere, streng biosekerheidsbeheer en bewegingsrekords, kwarantyn (28 dae) vir nuwe vee en rapportering van verdagte simptome kan net slaag as dit gepaardgaan met gekoördineerde implementering en ondersteuning aan boere op die grond, sê Von Maltitz.

VL bly daartoe verbind om met die regering en bedryfsvennote saam te werk om beheer te herstel, vertroue opnuut op te bou en die Vrystaat se boerderygemeenskap te beskerm. 

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh 

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.