Agriculture
Bonormale reënval vir dele van die land voorspel─── ISABEL VAN TONDER 11:36 Wed, 29 Oct 2025
Bonormale reënval tydens die laat lente en somer word oor die noordooste van die land voorspel.
Volgens die SA Weerdiens se onlangse seisoenale klimaatvooruitsig sal minimum en maksimum temperature in dié tyd oor die algemeen na verwagting bo die norm wees vir die grootste deel van die land. Intussen is reënval tydens die oorgang van die winter na die lente oor dele van die somer- sowel as winterreënvalstreek aangeteken.
Wintergewasse is oor die algemeen in ’n goeie toestand, maar dele in die Suid-Kaap ervaar droogtestres, wat waarskynlik ’n nadelige uitwerking op oeste sal hê. Somergewasboere berei nou voor op die plantseisoen, sê die departement van landbou.

Boere moet wag vir voldoende vog voordat daar geplant kan word Foto: Pexel.com
In die meeste provinsies bly damvlakke hoog.
Met die seisoenale vooruitsigte in gedagte word boere aangeraai om weer- en klimaatvoorspellings dop te hou, te wag vir voldoende vog voordat geplant word en landbouhulpbronne te bewaar ooreenkomstig die Wet op die bewaring van landbouhulpbronne.
Veeboere word aangeraai om veegetalle in balans te hou volgens die drakrag van die veld, byvoeding en gepaste lekke te verskaf en tydens ongunstige weerstoestande genoegsame waterpunte en beskutting vir vee beskikbaar te stel volgens departement van landbou.
Wees bedag op waarskuwings
Boere moet brandbane bou en streng aandag aan veldbrandwaarskuwings te gee. Hittegolwe en plaaslike oorstromings kan tydens die somer voorkom.
Boere moet dus bedag wees op waarskuwings van die owerheid.
Die departement van landbou sal aanhou bewustheid bevorder om boere toe te rus om vroeë waarskuwinginligting te verstaan, op te tree en te gebruik vir risikovermindering tydens rampe.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

