On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Rooivleisbedryf: ‘Ons dryf die bus in die verkeerde rigting’

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 06 Nov 2025

Rooivleisbedryf: ‘Ons dryf die bus in die verkeerde rigting’ | News Article
Ten spyte van hoë pryse en ’n toenemende aanvraag produseer die rooivleisbedryf minder as 15 jaar gelede. Foto: Pexel.com

Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf moet selfondersoek doen en eerlik wees oor die struikelblokke wat volhoubare groei kniehalter.

Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf moet selfondersoek doen en eerlik wees oor die struikelblokke wat volhoubare groei kniehalter. Ten spyte van hoë pryse en ’n toenemende aanvraag produseer die bedryf in reële terme minder as 15 jaar gelede. 

Dis ’n teken dat iets struktureels nie pluis is nie, sê Kobus Bester, beesboer van Ventersdorp en direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), in ’n paneelbespreking op die onlangse NAMPO Alfa gemaan. 

Swak leierskap en ’n gebrek aan kundigheid is van die grootste bedreigings vir die bedryf se toekoms, meen hy. Baie van die bestaande strukture is óf nie meer funksioneel nie, óf verloor relevansie omdat hulle nie meer by moderne behoeftes inpas nie. 


“As jou ledegeld vir jou sê jy sukkel om kop bo water te hou, dan is dit omdat jy nie meer relevant is nie. Dan moet jy besluit: Maak jy toe, of raak jy weer relevant?”

Bester lê sterk klem op die behoefte aan aanspreekbaarheid en ’n nuwe generasie leiers wat die bedryf se visie tot 2030 en verder verstaan. “Ons het mense nodig wat wetenskap en visie kan kombineer – kundiges wat die bedryf vorentoe vat.”

’n Groot deel van sy betoog het oor samewerking en organisasionele doeltreffendheid gegaan. Boere kla dikwels oor kleinighede, terwyl groter strukturele probleme bly voortduur. 

Paneelbespreking by NAMPO Alfa. V.l.n.r. Fanie Ferreira (MPO), Danie Minnaar (boer van Kroonstad),Tobias Doyer (Graan SA), Dewald Olivier (RMIS) en Kobus Bester (boer van Ventersdorp). Foto: OFM

“As jy kla oor R30 vir ’n oorplaatjie, maar nie besef dis minder as 0,1% van die produkwaarde nie, dan kla jy oor die verkeerde goed.”

Die gebrek aan ’n vleisgraderings-en-akkreditasiestelsel gee Suid-Afrika ’n groot agterstand teenoor internasionale standaarde. “Ons praat van wêreldhandel, maar ons het nie ’n stelsel wat dit ondersteun nie. Ons wil uitvoer, maar verstaan nie eens wat dit beteken nie.”

’n Swartgallige ingesteldheid en selfgesentreerde besluite knou die bedryf. Produsente moet hul kundigheid opskerp en hul bedrywighede meer professioneel bestuur, maan Bester. 

Volhoubaarheid of vinnige wins

“Ons is so besig om onsself te beskerm dat ons vergeet om die bedryf te bou. ’n Stygende gety lig almal.”

Suid-Afrikaanse beesvleis moet wêreldwyd erken word as ’n gesogte produk, hoop Bester. “Ek wil hê my kinders se kinders moet nog kan boer. Dit gaan nie oor vinnige wins nie, maar oor volhoubaarheid.”

Hy vra die bedryf moet leiers met visie en geloofwaardigheid aan die stuur plaas. “As die drywer nie meer weet waarheen ons op pad is nie, haal hom agter die stuur uit. Sit die regte ou agter die wiel. Anders gaan ons net aanhou dobber.”

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.