Click on the warning image to view this post
Agriculture
Onwettige jag met honde kom baie meer voor in feestyd─── ISABEL VAN TONDER 05:30 Mon, 17 Nov 2025
Dit is ’n toenemende probleem en verskeie wette word oortree.
Die jagbedrywighede het meer georganiseerd en gesofistikeerd geraak. Dit dra by tot spanning tussen boere, gemeenskappe, natuurbewaringsorganisasies, die polisie en oortreders, sê Isabel Kruger, veiligheidsverteenwoordiger en veediefstalspesialis by Vrystaat Landbou.
Oortreders blyk ook goed ingelig te wees wat hul regte en regskwessies betref en gebruik dit tot voordeel om situasies uit te buit.
Wette wat oortree word:
- Betredingswet, Wet 6 van 1959 (handel oor die verbod op toegang tot en teenwoordigheid op private grond).
- Opsetlike saakbeskadiging, gemenereg (enige oortreder wat wederregtelik en opsetlik private grond betree).
- Wilddiefstalwet, Wet 105 van 1991 (enige persoon wat grond wederregtelik betree en wild verwilder of weg lok is skuldig aan ’n oortreding).
- Omheiningswet, Wet 31 van 1963 (heining of hek oop gelos of nie vasgemaak word, anders as soos gevind).
- Veediefstalwet, Wet 57 van 1959 (misdaad indien persoon aangetref word op grond /kraal/skuur of stal om te steel en grondeienaar mag op grond van die wet sonder burgerlike arrestasie uitvoer.
- Dierebeskermingswet, Wet 71 van 1962 (enige persoon wat ’n dier aanhits om ’n ander dier aan te val.
- Vrystaatse Provinsiale Natuurbewaringsordonnansie, 8 van 1969 (geen persoon mag gewone wild jag sonder ’n permit/lisensie nie. Art. 9 verbied uitdruklik die jag met honde;
- Vrystaatse Hondebelastingordonnansie, 10 van 1968 (Art. 9 bepaal ’n hond kan van kant gemaak word deur ’n grondeienaar, slegs indien die hond wat betree, nie vergesel is deur die eienaar nie en indien dit skade op die grond veroorsaak het).
- Nasionale Wet op Omgewingsbestuur en Biodiversiteit, Wet 10 van 2004 (jaarlikse lyste word uitgereik met name van bedreigde en beskermde wildspesies en handel oor die jag, vang of doodmaak van sodanige spesies).

Onwettige jagters se honde is meestal mishandel en honger. Foto: DBV
Vrystaat Landbou raai boere aan om nie oortreders te konfronteer nie, maar om hul plaaswagstelsel in kennis te stel wanneer onwettige jagters die plaas betree, sê Kruger.
“Hulle is dikwels arrogant, aggressief en gewapen. Boere moet ook hul werkers inlig dat hulle nie mag toestemming gee om grond te betree vir jagdoeleindes nie.”
Boere word versoek om AgriSA se plaasprotokolborde of toepaslike kennisgewings by hekke of grensheinings aan te bring.
Meld alle gevalle by die polisie aan, hou rekord van saaknommers, neem foto’s en kry die name van getuies. Die foto’s mag egter nie versprei word op sosiale media nie.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

