Click on the warning image to view this post
Agriculture
Organisasie waarsku Kalahari-renosterstropers─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 18 Nov 2025
Die Kameeldoring-renosterbewaringsforum rig ’n waarskuwing aan misdaadsindikate wat beplan om renosters in die Kalahari-natuurlewesone te stroop.
Die Kameeldoring-renosterbewaringsforum verteenwoordig die Kalahari en maak ’n verskil deur voortdurend wildsmokkelary en renosterstropery te bestry. Die forum is ook ’n leier in die gebruik van tegnologie, dataverwerking en die koördinering van inligting teen misdaadsindikate, wat toeslaan op renosters.
Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het die Kalahari- geïntegreerde natuurlewesone in 2019 aangewys as een van sewe met van die hoogste konsentrasie renosters.
Dié sone moet samewerking teen natuurlewemisdaad, veral renosterstropery, verbeter en natuurreservate, privaat grond en kommunale gebiede in ’n gesamentlike bewaringstrategie integreer.
“Die Kameeldoring-bewaringsforum is ’n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk, wat die strategiese raamwerk en bestuur vorm in die Kalahari-sone,” vertel Bouwer Haupt, uitvoerende bestuurder van die forum en sonekoördineerder. Die forum wil onwettige natuurlewemisdaad bestry, die strafregstelsel versterk en korrupsie beveg.
Op sy onlangse jaarvergadering is die nuwe komitee aangewys. Forumlede het ooreengekom dat die poligraaf-en-ondersoekdiens Sapis steeds die veiligheidstruktuur van die organisasie sal wees, onder leiding van Jurg Kruger, projekbestuurder.
Die hooggeregshof in Kimberley het onlangs ’n baanbrekerbeslissing gelewer wat as ’n groot oorwinning vir renosterhoringhandel beskou word. Die hof het beslis die staat se algemene verbod op uitvoerpermitte vir die horings van renosters wat in aanhouding geteel word, is onwettig.

Renosterstropery neem toe in die Vrystaat, Noord-Kaap en Limpopo. Foto: Bouwer Haupt
Dit laat nie vrye handel toe nie. Die regter het beslis erkende telers, wat aan bewaringsvereistes voldoen, mag onder streng beheer en ingevolge ’n permitstelsel aansoek doen om die uitvoer van renosterhorings. Dié uitspraak baan die weg vir ’n gesprek oor die volhoubaarheid van renosterbewaring.
“Meer as 90% van die renosters in die Kalahari-sone is in privaat besit,” sê Haupt. “Daar is die voordurende bedreiging van georganiseerde misdaad, wat nie net renosterstroping raak nie, maar ook plaasveiligheid.” Dit sluit ook saaddiefstal, veediefstal en diefstal van infrastruktuur in.
19 renosters gestroop
In die Kalahari-sone is 19 renosters tot dusver vanjaar gestroop. “Ons sien goeie resultate wat inhegtenisnemings betref. Die ondersoekresultate van ons veediefstaleenhede stel egter teleur.”
Sy boodskap aan georganiseerde-misdaad-sindikate, wat boere teister, is dat hulle goed voorberei is en slaggereed is om hul smokkelplanne te fnuik, die polisie van inligting te voorsien en oortreders in hegtenis te laat neem.
“Julle het nie vryheid van beweging in die Noord-Kaap, Vrystaat of Molopo nie,” maan Haupt. “Ons weet wie julle is, en as jy nie Kersfees in die tronk wil slaap nie, bly uit ons gebied uit.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

