Agriculture
Wanneer minute tel: SARZA aan voorpunt van soek-en-redding─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 02 Dec 2025
Die soek-en-reddingsorganisasie Sarza is een van Suid-Afrika se onbesonge helde.
Dis ’n instellings wat in stilte, met toewyding en professionaliteit lewens red. Veral in ’n uitgestrekte land met soveel afgeleë en onherbergsame dele is die bestaan van ’n georganiseerde soek-en-reddingspan nie net ’n luukse nie maar ’n noodsaaklikheid, meen Braam Korff, voorsitter van die Vrystaat-streek.
Sarza, met die gepaste leuse “Sodat ander kan leef”, bestaan hoofsaaklik uit opgeleide vrywilligers, wat mense soek en red tydens rampe en ongelukke, of help wanneer iemand ver van die beskawing af vermis raak.
Die organisasie werk nooit alleen nie, maar altyd saam met ander instellings, soos die polisie, weermag, burgerlike beskerming, die nooddienste en Nasionale Seereddingsinstituut.
“Ons bied spesialishulp aan in situasies waar ander dienste dalk nie maklik toegang het nie en help ander noodorganisasies om hul werk beter te doen,” vertel Korff.
Opleiding is hul prioriteit. In die Vrystaat is daar vanjaar reeds meer as 55 opleidingsessies gehou, wat neerkom op 4 470 uur. Die afgelope jaar was die organisasie betrokke by 38 reddingsoperasies van altesaam 2 524 uur in die Vrystaat en Noord-Kaap.
Ook ’n landbourol
Sazra se spesialisvaardighede behels onder meer navigasie, taktiese soekmetodes, kommunikasie, oorlewing, waterredding, noodhulp, helikopteroperasies, brandbestryding, knooptegnieke en gevorderde voertuigbestuur. Die toerusting en dissipline is op die vlak van professionele noodspanne, maar die werk is 100% vrywillig.
Sazra was onder meer betrokke by reddingsoperasies tydens die Viljoenskroon-vloed, die Jagersfontein-slikdamramp en die redding van ’n kind wat buite Bloemfontein in ’n boorgat geval het.
Ook sy rol in die landbou kan nie onderskat word nie. Al sy vrywilligers word opgelei in vlak 1-veldbrandbestryding. Hulle ondersteun ander organisasies wat veldbrande bestry met logistieke en ander reddingshulp.

Sarza betrokke by die redding van ’n kind wat in ’n boorgat geval het. Foto: Facebook
In die geval van padsluitings ondersteun Sarza die verkeerspolisie. Boere word ondersteun tydens oorstromings, met die aflewering van kospakkies in noodsituasies en met ontruiming, welstandkontroles – waar opgevolg word wanneer plaasbewoners se veiligheid in die gedrang kan wees – en soek-en-reddingsoperasies.
Sarza maak slegs gebruik van vrywilligers en tree dadelik op as daar ’n noodroep is. Alle finansiering word verkry deur die aanbied van spesiale geleenthede, donasies en skenkings van die publiek en ondernemings.
Enigiemand wat betrokke wil raak, kan Korff by 082 455 5944 of per e-pos braam.korff@sarza.org.za nader, óf deur hulle webtuiste te besoek.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

