On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

RPO belig minister se aankondiging oor bek-en-klouseer

───   ISABEL VAN TONDER 12:50 Tue, 09 Dec 2025

RPO belig minister se aankondiging oor bek-en-klouseer | News Article
Die beskikbaarheid van entstof is ’n krisis en alternatiewe planne word gemaak. Foto: Pexel

Groot verwarring heers oor die minister van landbou se jongste aankondiging oor bek-en-klouseer.

Volgens die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) bly die situasie met die huidige uitbreking in Suid-Afrika onveranderd. Die totale bedryf is steeds onderhewig aan die bestaande regulasies, soos afgekondig.

John Steenhuisen se aankondiging was bloot die bekendstelling van die besluit oor hoe die regering bek-en-klouseer wil bestry. Regulasies was nog altyd daarop gemik om Suid-Afrika in sy geheel as bek-en-klouseervry te klassifiseer; dit kan ongelukkig nie meer van die heersende situasie gesê word nie, sê die RPO.

Die regering het dus besluit om ’n nuwe rigting in te slaan: Om die hele land se beeskudde in te ent en so eerstens die klassifikasie as ’n land te verkry.

Die RPO is bekommerd oor John Steenhuisen, minister van landbou, se aankondiging. Foto: Pexel

Entstowwe van verskillende verskaffers sal getoets word, het hy gesê. Van dié wat doeltreffend is, sal ’n miljoen dosisse per maand verkry word. Die brandpunte soos KwaZulu-Natal sal eerste geteiken word vir inentings.

Regulasies word beplan om voorkeur te gee aan melkerye (“ent om te lewe”) en voerkrale (“ent om te slag”) en marktoegang te herstel.

Kommer word uitgespreek oor die voorgenome inenting van alle diere, veral aanteel- en stoetvee. As alle diere ingeënt word, sal nuwe regulasies ingestel moet word wat die produsente en diere in ag neem. 

Koste, beskikbaarheid van entstof

Oor bepalings ingevolge die huidige regulasies soos F-brandmerke, kwarantyntydperke en dat slegs ingeënte diere geslag mag word, sal ook herbesin moet word.

Voorts wek die koste van die entstof kommer. Die RPO sê die spesifieke gegewens is nog nie beskikbaar nie en hulle wag vir die voorstel daaroor.

Die eintlike krisis tans, meen die RPO, is die beskikbaarheid van entstof. Landwyd is feitlik niks beskikbaar nie. 

Dit wat wel beskikbaar was, is opgekoop deur voerkrale en melkerye vir eie gebruik. Die volgende besending word eers middel Januarie/Februarie in die land verwag. Die virus kan intussen wyd versprei.

Verskeie entstowwe teen bek-en-klouseer word getoets. Foto: Pexel

Hoewel die virus se uitwerking op beesproduksie gewoonlik gering is, word produsente in gebiede onder kwartyn hul mark ontneem. Die RPO vra produsente moet alles in die stryd werp om hul eiendom se biosekerheid te verseker.

Bek-en-klouseer bly egter ’n staatsbeheerde siekte; die georganiseerde landbou kan net hulp of oplossings voorstel, benadruk die RPO. Hy sal volgehoue druk toepas. Die bedryf kan nie werk sonder die huidige rolspelers nie, wat insluit die primêre produsente van vleis, melk en genetiese materiaal, veilings, voerkrale en slagpale.

Almal moet in ag geneem word en saam beplan aan die pad vorentoe om hul voortbestaan te verseker.

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.