Agriculture
Misdaad in landbou: syfers wys waar gevaar lê─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 11 Dec 2025
Vrystaat Landbou (VL) het die misdaadsyfers vir die eerste drie kwartale van die boekjaar saamgevoeg vir ’n uitgebreide ontleding van misdaad in die Vrystaat.
Vanaf 1 Januarie tot 30 September is 17 291mense in Suid-Afrika vermoor, volgens Feroz Cachalia, minister van polisie, tydens die onlangse bekendmaking van die derde kwartaal se misdaadsyfers. In die Vrystaat het moorde in die eerste kwartaal met 8,4% van 203 tot 186 afgeneem (17) en in die tweede kwartaal met 12,6%; dus 27 minder moorde met 188 insidente.
Vir die kalenderjaar tot dusver is 588 moorde in die Vrystaat aangemeld en 1 394 pogings tot moord.
Van 1 April tot 30 Junie het plaasaanvalle landwyd vanaf 114 tot 95 afgeneem, met ander woorde met 19, die plaasaanvalle sluit brandstigting, opsetlike saakbeskadiging, veediefstal en diefstal van voertuie in, sê Isabel Kruger, veligheidsverteenwoordiger en veediefstalspesialis by VL.
Van 1 Januarie tot einde November is agt plaasmoorde en 19 plaasaanvalle in die Vrystaat aangemeld. Die 19 plaasaanvalle het voorgekom by Bethlehem, Bloemspruit, Brandfort, Clarens, Deneysville, Hertzogville, Kestell, Rosendal, Smithfield, Tweeling, Viljoenskroon, Virginia, Warden, Wepener en Zastron.
In sewe gevalle is verdagtes aangekeer, hoewel 40 aanvallers by die 19 voorvalle betrokke was.
Die afgelope nege maande is 17 510 veediefstalle landwyd aangemeld. In die Vrystaat het Thabo Mofutsanyane, wat dorpe soos Bethlehem, Harrismith, Reitz, Ficksburg en Vrede insluit, deurgeloop met 643 sake.
In die Mangaung-metrogebied is 399 sake aangemeld, die naasmeeste.
Lesotho-grens bly bron van kommer
Misdaad aan die Lesotho-grens bly ’n bron van kommer. Die afgelope nege maande is veediefstalsake by die 17 polisiekantore op die 13 grensdorpe aangemeld, ’n kwart van alle gevalle in die Vrystaat.
By Clocolan, Clarens, Ladybrand, Kestell en Zastron het veediefstal in die jongste kwartaal toegeneem.
Nog Vrystaatse brandpunte van veediefstal sluit in Botshabelo, Bultfontein, Dewetsdorp, Franfort, Senekal, Ventersburg en Theunissen. Die helfte van Vrystaatse gevalle vind hier plaas.

Skape word die meeste tydens veediefstal gesteel Foto: Pexel
In die eerste ses maande van die kalenderjaar is 93 665 diere gesteel, waarvan die meeste skape (35 314), beeste (25 592) en boerbokke (25 982) was.
“Dit is opmerklik dat daar in die Kerstyd meer diere gesteel word en indien misdadigers nie suksesvol is nie, kom hulle terug,” sê Kruger. “Daar is al telkemale gewaarsku dat inligting van die werkers op die plaas afkom en in baie gevalle is hulself betrokke.
“Wees bedag: Die makste honde byt die seerste.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

