On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

AgriSA neem kennis van minimumloon-voorstel

───   ISABEL VAN TONDER 12:29 Fri, 12 Dec 2025

AgriSA neem kennis van minimumloon-voorstel | News Article
Arbeidskoste moet verstaan word in ’n kwesbare omgewing soos landbou. Foto: Pexel

Die landbousektor bevind hom steeds in ’n kwesbare omgewing. Dis die agtergrond waarteen besluite oor arbeidskoste verstaan moet word.

In reaksie op die voorgestelde verhoging in die minimumloon van die verbruikersprysindeks plus 1,5 persentasiepunte met ingang 1 Maart, benadruk AgriSA die sektorspesifieke werklikhede van die landbou. Hy wys ook op die strategiese rol van die landboubedryf in die ontwikkeling van die platteland.

“Suid-Afrika se landbousektor is die laaste jare geraak deur ernstige droogte, herhalende uitbrekings van dieresiektes, stygende insetkoste en agteruitgang van infrastruktuur,” sê Johann Kotzé, AgriSA se uitvoerende hoof. 

Landbou bly steeds onder groot druk Foto: Pexel

“Ná beduidende inkrimpings van 4,6% in 2023 en 8,7% in 2024 begin die sektor nou eers met ’n brose herstel.”

Kragtariefverhogings, wat meer as 25% op sekere plattelandse voorsieningslyne oorskry, tesame met die stygende koste van besproeiing, logistiek, nakoming en privaat sekerheid, plaas produsente onder toenemende druk. 

Landbou bly ’n groot werkgewer en verskaf byna ’n miljoen werksgeleenthede. Indiensnemingtendense bly egter sensitief vir klimaatskokke, uitdagings van winsgewendheid en stygende insetkoste.

Verbind tot opbouende betrokkenheid

Uitvoergerigte bedrywe soos sitrus, neute en wyn bly blootgestel aan stygende arbeidskoste. Hulle ding mee in hoogs kompeterende wêreldmarkte waar Suid-Afrikaanse produsente reeds te kampe het met strukturele uitdagings.

Dit sluit in hoë vragkoste, druk op hawens, verswakte dieregesondheidstelsel, wat marktoegang benadeel, en tariefhindernisse in prioriteitsmarkte. Die handhawing van kostemededinging bly noodsaaklik om werkgeleenthede en uitvoerinkomste te behou.

“AgriSA bly verbind tot opbouende betrokkenheid by die departement van indiensneming en arbeid,” voeg Kotze by. Die organisasie sal hom steeds beywer vir ’n beleidsbenadering wat werkerswelsyn en die volhoubaarheid op lang termyn van Suid-Afrika se voedselsekerheid, landelike indiensneming en die winsgewendheid van landbou-ondernemings in ag neem.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.