On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Byaanval: Grusame voorval eis lewe van munisipale werker

───   ISABEL VAN TONDER 12:16 Mon, 15 Dec 2025

Byaanval: Grusame voorval eis lewe van munisipale werker | News Article
Wees waaksaam vir erge allergiese simptome in enige geval van bysteek. Foto: Ben’s Bees

‘n Werknemer van die eThekwini-munisipaliteit is dood ná ’n tragiese voorval toe werkers deur bye aangeval is.

Lenny Naicker (59) is oorlede nadat hy deur bye aangeval is en ’n kollega per ongeluk petrol oor hom uitgegooi en dit vlam gevat het. Naicker het Saterdagaand (13/12) in die Hibiscus-hospitaal oorlede, berig The Witness

Naicker, van Chatsworth, is in die hospitaal opgeneem ná die voorval naby Gandhi Park terwyl hy en kollegas gras gesny het. Hulle was besig om ’n oorgroeide bos skoon te maak ná klagtes van inwoners toe hulle ’n bynes versteur. Die swerm het die werkers aangeval, wat desperaat probeer het om die bye te verdryf.

’n Kollega het van die grasnytoerusting se petrol oor Naicker gegooi in die hoop die reuk sou die insekte afgeweer het. ’n Ander kollega het intussen vuur gemaak sodat die rook die bye kon verjaag, onbewus daarvan dat daar petrol oor Naicker gegooi is. Hy is ernstig beseer en na ’n hospitaal gehaas.

Kontak liefs professionele persone wat byneste verwyder. Foto: Pexel

Naicker se jonger suster, Tasmia Ismail, het sy dood bevestig en hom beskryf as ’n toegewyde gesinsman en ’n lojale munisipale werker. 

“Hy het sy werk liefgehad en was ’n vriendelike en saggeaarde mens. Hy was die enigste broodwinner van sy gesin, ’n getroude pa van een seun. Ons is verpletter deur sy dood,” sê Ismail.

Die meeste insekbyte en -steke veroorsaak slegs ’n allergiese toestand en is behandelbaar, sê dr. Neville Vlok, spesialisnoodgeneesheer van die Netcare Unitas-hospitaal. Die gevaar ontstaan wanneer ernstige allergiese reaksie ontstaan, ook bekend as anafilaksie. Hospitaalbehandeling is dan van uiterste belang.

Moenie angel druk

“Skraap die angel uit met ’n vingernael of kaartjie; moenie druk om die angel te verwyder nie. Meer gif word sodoende in die steekplek ingedwing. As jy allergies is, hou altyd ’n adrenalien-inspuiting by jou en dra altyd jou mediese armband. Allergieë kan egter enige tyd ontwikkel, so dit is belangrik om waaksaam te wees vir simptome soos moeilike asemhaling, hoofpyn of buikpyn,” sê Vlok.

Dit is ook raadsaam om nie self te probeer om byneste te verwyder nie, maar om kundiges te ontbied wat spesialiseer in die verwydering daarvan.

Bye is aktiewer in warm weer en reageer op vibrasies. Bly dus weg van enigiets wat die byekorf mag versteur.

 Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.