Agriculture
Versoete bedrog van onsuiwer heuning op winkelrakke─── ISABEL VAN TONDER 12:26 Wed, 17 Dec 2025
Wat baie verbruikers as ’n suiwer, natuurlike produk beskou, is nie altyd wat dit voorgee om te wees nie. Heuning is een van die mees vervalste voedselprodukte wêreldwyd.
John Steenhuisen, minister van landbou, waarsku verbruikers teen nagemaakte heuning wat as “suiwer heuning” verpak en verkoop word.
Daar is onlangs by talle informele kleinhandelaars beslag gelê op vervalste heuningprodukte wat byvoegings soos onder meer verskillende soorte stroop bevat. Steenhuisen verseker verbruikers dat daar geen bewys is wat groot supermarkkettings impliseer nie, berig Business Day.
Heuning is een van die mees vervalste produkte ter wêreld
Suiwer heuning is naas melk en olyfolie, een van die mees vervalste produkte wêreldwyd.
“Vals” heuning bring byeboere se lewensbestaan in gedrang omdat dit goedkoper is om te vervaardig. Omdat dit goedkoper is, dwing dit die prys van suiwer heuning af.
“Vals heuning” verwys na produkte wat verpak word met bedrieglike inligting op die etikette. Dit word afgewater met mieliestroop, rysstroop of ander versoeters. In sommige gevalle is hierdie produkte goedkoop stroop wat verpak is om soos heuning te lyk.
Dit is skadelik omdat dit verbruikers mislei, hulle van die voedings- en medisinale eienskappe van egte heuning ontneem, en vertroue in die mark ondermyn
Suiwer heuning bevat natuurlike ensieme, antioksidante en antibakteriese eienskappe. Wanneer dit afgewater of nagemaak word, is dié voordele daarmee heen.

Voedselprodukte soos melk, heuning en olyfolie word die meeste vervals. Foto: Pexel
Voedselinspekteurs het in November toegeslaan op informele kleinhandelaars in Gauteng en beslag gelê op 1 059 heuningprodukte met bygevoegde stroop en 388 produkte wat foutiewe inligting op hul etikette bevat het.
Steenhuisen benadruk dat geen supermarkgroepe al betrap is met die verkoop van onsuiwer heuning nie, en sê sy departement sal volhard in hul stryd teen misleidende produkte. Die projek #StopFakeHoney is begin om verbruikers te help om suiwer heuning uit te ken en die integriteit van die bedryf te beskerm in die vervaardiging van die produk.
Navorsing deur die Universiteit van Kaapstad het onlangs bevind die uitvoer van heuning het van 2004 tot 2022 verdubbel, maar die getal byekorwe het met ’n skamele 8% toegeneem. Dit toon hoe groot die probleem van nagemaakte heuning is.
Vae beskrywings soos “heuningmengsel” of “heuninggegeurde stroop” moet gevaarligte laat flikker
Terwyl plaaslike produksie stabiel bly op 1 000 t jaarliks, het die invoer van heuning van 2010 tot 2021 met 86% gestyg.
Verbruikers word aangeraai om heuning slegs by betroubare plaaslike produsente te koop. Etikette moet noukeurig gelees word en vae beskrywings soos “heuningmengsel” of “heuninggegeurde stroop” moet gevaarligte laat flikker.
Verbruikers meen in ’n tydperk waar natuurlike produkte hoog aangeslaan word, is dit belangriker as ooit dat heuning wat as eg verkoop word, ook werklik eg is – tot voordeel van die verbruiker, boer en natuur.
