On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Drie-dae-stywesiekte: Kort veesiekte met groot impak

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 08 Jan 2026

Drie-dae-stywesiekte: Kort veesiekte met groot impak | News Article
Die veesiekte DDS word deur bytende insekte soos muggies en muskiete oorgedra. Foto: Pexel

Die veesiekte drie-dae-stywesiekte (DDS) is ’n virussiekte wat hoofsaaklik by beeste voorkom.

Die siekte word meestal aangemeld tydens nat, warm seisoene en word veral deur muggies oorgedra. Die vernaamste slagoffers is beeskuddes en waterbuffels.

Dit hou beduidende gevaar in vir veeboerdery, veral waar diere intensief bestuur of in groot kuddes aangehou word, vertel dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van Bloemfontein se veterinêre laboratorium.


Die jong diere herstel taamlik vinnig, maar ouer diere wat swaarder weeg, kan sukkel om te herstel. “Die belangrikste simptome is dat diere sal ophou wei, apart van die trop staan en dit sal lyk of die dier styf loop.

“In minder ernstige gevalle sal ’n bees self herstel en binne drie dae weer sy ou self wees. Daar kan ’n uitloopsel uit die neus wees, diere kan hulle gewig van een voet na ’n ander skuif en daar is soms swelling van die gewrigte.”

By nadere ondersoek sal daar ook ’n verhoogde hartklop en asemhalingstempo wees asook spiertrillings, voeg sy by. Melkkuddes sal ook ’n drastiese afname in melkproduksie toon en simptome van koors kan binne 12 tot 24 uur ontwikkel.

Letsels van knopvelsiekte. Foto: G Gaigher

Die onderskeiding tussen die drie algemene veesiektes wat nou in omloop is: 

  • Knolpvelsiekte: verskeie knoppe van tussen 1 en 4 cm slaan uit op enige plek op die lyf, 
  • slenkdalkoors lei tot aborsies, en 
  • DDS lei tot stywe spiere en verlamming.

DDS lei tot stywe spiere en verlamming. Foto: Jim Bendon/Wikipedia

Cloete-Bester sê koorsbeheer en teenontstekingsmiddels is nodig. Hoe gouer dit toegedien word, hoe vinniger is daar verligting van simptome, en die nagevolge is minder.

Die ekonomiese gevolge van DDS word dikwels onderskat. Benewens direkte verliese weens verminderde produksie dra ekstra arbeid, veeartsenykoste en langer hersteltydperke by tot geldelike druk op produsente.

Herstel is gewoonlik binne drie dae, maar komplikasies met die veesiekte sluip gewoonlik ná twee weke in. In erge gevalle sal die dier nie weer opstaan nadat hy gaan lê het nie en sal hy van kant gemaak moet word.

Veesiektes kan deur inenting beheer en voorkom word. Foto: Dierenkliniek Beschop Onderwater

By veeartse is verskeie middels, soos Meloksikam, verkrygbaar en inentings word hoogs aanbeveel. Enstowwe wat beskikbaar is, is die entstof van OBP en Design Biologix se entstof, wat BEF-Tect heet.

“My belangrikste boodskap aan boere is dat enting altyd beter is as behandeling,” sê Cloete-Bester. 

“As diere op dag een behandel kan word, is die kans op herstel soveel beter. Ek glo die duurste medisyne is goedkoper as ’n dooie bees.”

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.