Agriculture
VF Plus dring aan op verklaring van ramptoestand─── ISABEL VAN TONDER 11:24 Wed, 14 Jan 2026
Die regering se jare lange versuim om daadwerklike stappe te doen teen bek-en-klouseer (BKS) noodsaak ’n verklaring tot ramptoestand in die land.
Die VF Plus dring aan op ’n ramptoestand om die BKS-krisis in die beesvleisbedryf die hof te bied. “Hierdie drastiese optrede is noodsaaklik omdat ministeriële taakspanne se aanbevelings sedert 2016 nie gevolg is nie,” sê dr. Wynand Boshoff, die party se landbouwoordvoerder.
“Bek-en-klouseer is soos enige aansteeklike siekte: Indien die voorkoms daarvan vroeg opgespoor en verspreiding bekamp word, hoef dit nie ’n krisis te veroorsaak nie.”

Die VF-Plus dring aan op 'n ramptoestandverklaring Foto: Pexel
Dis bekend dat Afrika-buffels natuurlike draers van die siekte is, sê hy, en dat die bedryf altyd op verspreiding na vee bedag moet wees. Daarom het Onderstepoort dekades lank entstowwe in voorraad gehou om ’n uitbreking van dié siekte in die kiem te smoor.
“Teen 2016 het die destydse minister van landbou, Thoko Didiza, ’n taakspan aangestel om die bedreiging van bek-en-klouseer te ondersoek, te midde van verval by Onderstepoort Biologiese Produkte. Dit is ’n onderneming binne daardie departement.”
Die taakspan se aanbevelings is nie opgevolg nie, sê hy. Dieselfde geld ’n nuwe taakspan wat in 2021 die saak moes ondersoek. “Nóg ’n taakspan, wat in September oor die saak aangestel is, loop hom teen ’n muur van geen-optrede vas.”
Tien jaar gelede was die siekte net ’n moontlike bedreiging, maar teen einde 2024 het dit reeds reuseskade in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangerig, sê Boshoff. “Weens ’n volgehoue gebrek aan optrede, het dit teen Mei na van die land se grootste voerkrale versprei, wat bewys dat halfhartige optrede misluk het.”
Hy meen die kern van die probleem is die gebrek aan beskikbare entstowwe sowel as die prys daarvan, gekwalifiseerde mensekrag om dit toe te dien en doeltreffende beheer oor die beweging van diere. “Kwarantynmaatreëls help net as dit afgedwing word.”
’n Ramptoestand sal behels dat bykomende staatsgeld bestee word om die siekte te bekamp. “Die vervaardigingsvermoë vir die korrekte entstof bestaan in Suid-Afrika, maar dit moet geaktiveer word.”
Inenting moet op private en meentgrond toegedien word. Private veeartse moet betrek word, aangesien die staat eenvoudig nie genoeg gekwalifiseerde personeel in diens het nie.
Die staat moet vir die entstowwe betaal. Voorts is dit belangrik dat meer abattoirs geakkrediteer word om besmette diere te slag, meen Boshoff.
“In hierdie opsig is dit belangrik om te weet dat die vleis van besmette diere geen gevaar inhou nie.” Die gevaar van verspreiding vanaf abattoirs word bekamp in die wyse waarop afval hanteer word.
Doeltreffende kwarantynmaatreëls
“Boere kan eenvoudig nie voortbestaan as hulle nie vee kan bemark nie. Dit sal ook tot oorbenutting van weiding lei.”
Wetstoepassingsagentskappe en plaaswagte moet saamwerk om te verseker dat kwarantynmaatreëls doeltreffend en op alle paaie toegepas word. Dit is ook belangrik dat elektroniese stelsels vir naspeurbaarheid van vee algemene praktyk word.
“Hierdie krisis het reeds vroeër gedreig, maar die ontplooiing daarvan het onder die huidige minister ontstaan. Dit sal ’n onvergeeflike versuim wees as hy nie nou met die nodige dringendheid optree nie.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.



