Agriculture
Tierhartsindroom: Stil bedreiging vir jong kalwers─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 19 Jan 2026
Tierhartsindroom kom toenemend onder jong suipkalwers voor.
Die naam verwys na die gestreepte voorkoms van die hartspier wanneer dit beskadig is. Dié siekte is ’n simptoom van ander toestande.
Hartsiektes kom nie algemeen in beeste voor nie en hartkwale word eers tydens nadoodse ondersoeke vasgestel.
Vee met ’n hartkwaal sal gewoonlik ook nie voortplant nie, hulle sal swak doen en deur ’n trop uitgeskop word voordat hulle volwassenheid bereik.
“Tierhartsindroom kom spesifiek in kalwers onder drie maande voor en verwys na die gestreepte hart wat tydens nadoodse ondersoeke gesien word,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die veterinêre laboratorium Bloemfontein.
“Selle in die hartspier gaan dood en vertoon dan wit, terwyl die gesonde selle rooi vertoon; vandaar die gestreepte vorm en naam. Wanneer diere dan in stressituasies geplaas word, soos hantering of aanjaag oor lang afstande, kry hulle hartstilstand en gaan skielik dood.”
Verskeie oorsake kan letsels aan die hart laat, soos plantvergiftigings, ’n tekort aan vitamien C of selenium, en ook viruses soos bek-en-klouseer. Die sindroom is nie algemeen in Suid-Afrika nie, maar weens die reuse-uitbreking van bek-en-klouseer kom die siekte meer voor.
Die rol van genetika is nog nie duidelik in hierdie veesiekte nie.
Wanneer ’n boer ’n bek-en-klou-uitbreking in sy kudde waarneem, moet hy die kalwers van onder drie maande fyn dophou. Gewoonlik is daar pogings om die kalwers te help met ekstra melk en behandeling. Die stres van die hantering is genoeg om tot die dood van kalwers te lei.

Tierhartsindroom kom spesifiek in kalwers onder drie maande voor. Foto: Terry Herholdt
Dikwels sal kalwers geen tekens toon nie, anders as koeie wat kwyl en swaar loop. Die kalwers lyk normaal, maar tydens hantering val hulle net dood neer.
Met enige vrektes is dit raadsaam om ’n veearts te nader omdat die oorsaak van dood altyd bepaal moet word, sê Bester-Cloete. “Daar is geen behandeling beskikbaar nie en kalwers wat dood neerval, is die eerste tekens.
“Die voordele van enting vir sulke jong kalwers is debateerbaar; die belangrikste is die stresfaktore. Die diere se immuunstelsel kan aangehelp word met ’n kombinasievitamien en mineraalaanvullings in hul kos. Meestal moet diere net rustig gelos word.”
Die belangrikste raad in hierdie geval is: “Minder is meer wat behandeling betref, en die belangrikste woord is ‘biosekerheid’. Ons sal die standaard van biosekerheid op ons plase moet verbeter en volhou.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

