On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Wanneer haarwurm toeslaan, tel elke dag

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 29 Jan 2026

Wanneer haarwurm toeslaan, tel elke dag | News Article
Haarwurmbesmetting kom toenemend onder skape voor. Foto: Scitech daily

Haarwurm bly een van die grootste gesondheidsbedreigings vir skaapboere in Suid-Afrika.

Hierdie parasiet kan binne ’n paar dae ernstige bloedarmoede, swak kondisie en vrektes veroorsaak as dit nie betyds bestuur word nie. Haarwurm verwys na Haemonchus contortus, wat in Engels ook bekend staan as die “barberpole worm”. 

Die naam kom van die wyfie wat rooi is, met ’n wit eiersakkie om die lyf.

Dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van veterinêre laboratorium in Bloemfontein, vertel die laaste weke is groot verliese gely weens hierdie parasiet. Boere het tientalle skape in ’n kwessie van ’n week verloor.

“Eiers word in mis uitgeskei en lê op die gras. Die eiers broei uit en ontwikkel van larwestadium een tot drie binne vier tot ses dae.

“Die larwe sit aan die gras en wag om deur ’n skaap gevreet te word. Die onvolwasse larwes ontwikkel verder in die melkpens tot volwasse wurms, terwyl hulle van die skaap se bloed suig.

Siklus van 20 dae

“Volwasse wyfies kan tot 5 000 eiers per dag lê terwyl hulle gedurig op die skaap se bloed voed. Die hele siklus is maar so kort soos 20 dae.”

Haarwurm kom veral in die nat ooste van die land voor, veral tydens die reënseisoen. Haarwurm floreer by temperature van 25 °C en hoër, nat toestande en is veral ’n probleem op Kikuyu gras of weidings wat besproei word. 

Dit kan ook in ander veldtipes voorkom.

Skape ontwikkel ’n “kwakkeel” as haarwurm teenwoordig is. Foto: Farmacie SA

Volgens Bester-Cloete is die eerste teken waarna boere moet oplet, ’n bleek pienk binne skape se ooglede. Skape moet gevang word en daar moet na die binnekant van hul onderste ooglid gekyk word.

Skape kan agter raak in die trop, sommige sal ’n “kwakkeel” hê en daar sal diarree teenwoordig wees. Diere se kondisie versleg baie vinnig.

“Ek beveel altyd die vyf-punt-Famacha-stelsel aan. Eerstens: Kyk na die oë en ooglede: Is dit bleek en pienk? Tweedens: Kyk na die neus: Is daar enige uitloopsel?

Die eerste teken van haarwurm is bleek, pienk ooglede. Foto: Hanri Bester-Cloete

“Derdens, kyk na die kakebeen: enige swellings? Vierdens, voel oor die rug: Kan jy die skaap se ruggraat en ribbes voel? 

“Vyfdens, kyk na die stert: Is daar enige tekens van diarree? Miseiertellings is die maklikste en goedkoopste manier om ’n diagnose te maak. 

“Skape, kan binne ’n paar dae van gesond tot dood gaan. Die diere is dikwels papier-wit tydens nadoodse ondersoek wat ’n teken is van die verlies van bloedproteïne,” sê Bester-Cloete.

Seisoene verskil

Weidingsbestuur speel ’n belangrike rol in die beheer van haarwurm. Boere maak dikwels foute met wurmbeheer deurdat hulle glo in langwerkende inspuitbare middels en glo dit hou 120 dae.

Twee seisoene is nie dieselfde nie en daarom moet daar ook nie volgens ’n program of skedule doseer word nie. Wurmmiddels moet altyd volgens gewig toegedien word en moenie middels lukraak gebruik nie, wurms bou ’n weerstand daarteen op. 

Hou rekord van watter middels jy gebruik het. “Werk saam met jou veearts en neem ingeligte besluite voordat jy doseer.” 

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.