Agriculture
Probleemplante bedreig volhoubare boerdery─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 10 Feb 2026
Probleemplante is een van die grootste winsvreters in die Suid-Afrikaanse landbou.
Terwyl droogte, insetkoste en siektes dikwels die kollig steel, veroorsaak indringer en hardnekkige onkruide soos die nagblom (“evening primrose”) en Palmer-amarant jaarliks miljoene rande se verliese. “Die nagblomsoorte is baie interessant.
“Dis soorte onkruid wat na Suid-Afrika toe gekom het op ’n spesifieke manier, want hulle is inheems aan die Amerikas,” vertel prof. Charlie Reinhardt, voormalige hoof van die departement plantproduksie en grondkunde aan die Universiteit van Pretoria.

Die nagblom (Evening Primrose) kom in pienk en geel voor en is ’n indringerplant. Foto: Charlie Reinhardt
“Die meeste is afkomstig uit die Noord-Amerikaanse vasteland en ook Meksiko. Die aandblom verwys na blomme wat in die aand oopgaan en teen die middag van die volgende dag, maak hulle weer toe.”
Onkruidgewasse ding mee om water, voedingstowwe en sonlig. Onbeheerde onkruid kan ’n oesopbrengs met 30-70% verminder, na gelang van die gewas en besmettingsvlak.
Altesaam 14 spesies nagblomme kom in SA voor, veral langs paaie. Die nagblom kan pienk of geel wees.
Geen natuurlike vyande
Aangesien die nagblom van Texas en Meksiko afkomstig is, is dit goed aangepas vir droë temperature en hou van sandgrond. Nagblom versprei aggressief deur saad en vestig maklik in versteurde grond.
“Onkruidplante moet so vroeg moontlik beheer word,” waarsku Reinhardt. “Uitheemse onkruid se sade bly lank lewenskragtig en daar is nie siektes en insekte wat hulle in dié deel van die wêreld in toom kan hou nie.
“Veral nagblomme is bekend vir hulle sterk ondergrondse wortelselsel; dit wat jy bo-op die grond sien, is dikwels net die oortjies van die seekoei.”
Die Palmer-amarant word as een van die gevaarlikste probleemgewasse beskou. Foto: Charlie Reinhardt
Die Palmer-amarant (Amaranthus palmeri) is oorspronklik afkomstig van Noord-Amerika en word wêreldwyd as een van die gevaarlikste onkruide in probleemgewasse beskou. Die plant groei vinnig, sowat 5-7 cm per dag en kan binne weke bo mielies en sojabone uittroon.
“Die plant is deel van geslag Amaranthus, wat al lank in Suid-Afrika voorkom en staan bekend as misbredie of marog. Plaaslike gemeenskappe versamel dit graag en dis baie voedsaam, baie hoë protein inhoud en voedsaam vir mens en dier.
“Die probleem hiermee is egter dat indien diere te veel van die plant vreet is dit toksies weens die oormaat stikstof,” sê Reinhardt.
Enorme bedreiging
Sy groep navorsers het reeds in 2018 op die Palmer-spesie in SA afgekom, toe hulle bewustheid begin opskerp het oor die enorme bedreiging wat die plant vir Suid-Afrikaanse landbou inhou. In die VSA is dit die voorste onkruid.
“Die Amerikaners kry dit nie uitgewis nie, tegnologie en al; hulle moet die onkruid nou met die hand uittrek op die lande, en die saadbank van die probleemplant bou stelselmatig op in Suid-Afrika. Indien ons dit nie betyds beheer nie, loop ons dieselfde pad.”
Die publiek kan navorsers bystaan om meer inligting te bekom deur foto’s en inligting van onkruid wat hulle sien, te stuur na dr.charlie.reinhardt@gmail.com of bel hom by 083 442 3427.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

