Agriculture
Koringbedryf in krisis waarsku Graan SA─── ISABEL VAN TONDER 08:39 Thu, 12 Feb 2026
Suid-Afrika se koringbedryf staan voor ’n diepgaande ekonomiese krisis.
Op streeksvergaderings in die Wes-Kaap se wintergraangebiede het Graan SA en ander koringprodusente dié krisis belig. Dit bedreig produsente se voortbestaan, aanplantingsbesluite en die land se voedselsekerheid.
Op die vergaderings in die Swartland, Overberg en Suid-Kaap het Graan SA se leiers en ander belanghebbendes gesê die groot probleem is die krisis kan nie net aan lae internasionale pryse toegeskryf word nie.
Prysdruk
Stygende koste, handels- en waardekettinguitdagings en strukturele tekortkominge speel ook ’n rol.
Wêreldwye prysdruk en insetkoste is ook onder die loep geneem, veral vir kunsmis, energie, logistiek en meganisasie. Vertraagde en onvoldoende implementering van die invoertarief en die beskermende doel daarvan word ondermyn.

Graan SA is bekommerd oor voedselsekerheid en volhoubare ekonomiese druk. Foto: Pexel
“Dit is nie ’n funksionerende vryemark-aanpassing nie. Dit is ’n struktureel verwronge stelsel waar produsente verliese absorbeer, terwyl kostedruk elders nie teen dieselfde tempo aanpas nie,” sê Tobias Doyer, Graan SA se uitvoerende hoof.
Invoer bereik dikwels ’n hoogtepunt in September en Oktober wat plaaslike pryse onder enorme druk plaas. Verbruikerspryse bly taamlik stabiel terwyl produsente die grootste deel van die waardeketting se afwaartse risiko en prysoordrag dra.
Mededinging
Produsente is bekommerd oor ongebalanseerde mededinging en die wisselwerking van die Safex-pryse en die liggingsverskille. Hulle sê dit weerspieël nie meer die werklikheid van die koringmarkte nie.
Volgens Graan SA is die probleem nie die afwesigheid van beleid nie, maar die onvermoë om betyds te reageer weens stadige administrasie.

Graan SA waarsku die koringbedryf is onder volgehoue druk. Foto: Pexel
Volhoubaarheid bly buite bereik as produsente alleen elke aanpassing moet absorbeer. As koringprodusente die handdoek ingooi, sal dit Suid-Afrika blootstel aan groter invoerafhanklikheid en voedselrisiko’s op lang termyn.
Produsente ervaar min verligting in insetpryse en handels- en beleidskwessies het sterk kritiek ontlok. “Dit is ’n strukturele probleem wat nie langer uitgestel kan word nie,” beklemtoon Doyer.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

