Agriculture
TLU rig duidelike boodskap aan regering─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 23 Feb 2026
TLU SA het ’n duidelike boodskap vir die minister van finansies, wat binnekort sy begrotingsrede gaan hou.
Sonder daadwerklike optrede oor veiligheid en staatskapasiteit kan geen ekonomiese plan of hervorming slaag nie. Ná die president se staatsrede bly die kernvraag of die begroting die praktiese middele sal verskaf om die land se grootste struikelblokke daadwerklik aan te pak.
“Ons moet eerlik wees oor ons realiteit,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Daar is oor drie dekades heen ’n sistemiese kapasiteitsprobleem in die staatsdiens geskep.
Dringendheid
“Ons gaan nie vordering maak indien prestasie, aanspreeklikheid en ’n sin vir dringendheid nie die grondslag vorm van hoe fondse aangewend word nie. Dit help nie geld word begroot nie, dit moet reg en doelmatig aangewend word in belang van Suid-Afrika.”
TLU SA doen ’n ernstige beroep op die minister om in sy begrotingsrede nie slegs nuwe aankondigings te maak nie, maar duidelike meganismes vir inwerkingstelling, toesig en aanspreeklikheid uiteen te sit.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, is bekommerd oor die begrotingsrede. Foto: TLU SA
Sonder daadwerklike verbetering in veiligheid en staatskapasiteit sal ekonomiese herstel en landbou-ontwikkeling bloot op papier bestaan. Die primêre verantwoordelikheid van enige regering is om ’n veilige omgewing vir sy burgers en werkplekke te verseker.
Sonder veiligheid bly ekonomiese groei, belegging, landbouproduksie en werkskepping teoretiese doelwitte.
Die vraag wat TLU SA aan die minister stel, is of die komende begroting werklik die nodige voorsiening sal maak om wetstoepassingsinstansies soos die polisie te herstel, te suiwer en te versterk sodat hulle weer professioneel, betroubaar en vertroubaar kan funksioneer.
Beskikbare geld
Dit sluit voldoende befondsing in vir goed opgeleide personeel, die nodige kundigheid en logistieke ondersteuning om hul werk effektief te verrig.
Die kernvraag bly egter of die beskikbare geld in vorige begrotings werklik aangewend is vir die doel waarvoor dit bestem was, en of daar die regte kundigheid en bestuursvermoë in plek is om optimale waarde vir elke rand te verseker.
Suid-Afrika kan nie langer bekostig om begrotingsbeloftes te hoor sonder meetbare uitkomste nie.
“TLU SA wil ook beklemtoon vuisvoos belastingbetalers kan eenvoudig nie nóg finansiële skokke absorbeer nie, veral nie in die huidige ekonomiese klimaat nie.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

