Agriculture
Meer druk op boere se besteebare inkomste─── ELSABÉ RICHARD 12:04 Fri, 13 Mar 2026
Boere kan in 2026 meer druk ervaar op hul besteebare inkomste en potensiële winste weens laer graanpryse, bek-en-klouseer en stygende insetkoste.
“Ons moet in ag neem dat wanneer die olieprys styg, is dit nie net dieselinsette wat styg nie,” sê Dawie Maree, landbou-inligting-en-bemarkingshoof by FNB. “Daar is ander insetkoste,. soos kunsmis, wat ’n neweproduk van die olieproses is.”
In teenstelling met die afgelope twee of drie jaar, wat eintlik goeie landboujare was, voeg hy by, sal boere mooi moet begroot ten opsigte van kontantvloei wanneer hulle byvoorbeeld om finansiering aansoek doen.
Veral weens die oorlog in die Midde-Ooste heer groot kommer oor die prys van olie en hoe dit brandstofpryse kan opjaag. Wandile Sihlobo, hooflandbou-ekonoom by die Landbousakekamer van Suid-Afrika, benadruk brandstof is verantwoordelik vir ongeveer 13% van graanboere se insetkoste.
Dieselverbruik op die plaas neem gewoonlik toe wanneer boere vanaf April wintergewasse begin plant, terwyl ander vroeg somergrane en sitrus te begin oes. Sihlobo sê die potensiële brandstofprysverhoging weens die onrus sal daarom waarskynlik opwaartse druk op pryse in die sektor plaas.
Hoe om kontantvloei te bestuur
Die jongste landbousakevertroue-indeks het met 18 persentasiepunte getuimel tot 49%, die laagste vlak sedert die derde kwartaal van 2024. Gegewe al die uitdagings wat bydra tot boere se pessimisme, is dit belangrik om kontantvloei te bestuur.
“Ek dink wat belangrik is,” sê Maré, “as ’n mens dit uit ’n bank se oogpunt (kyk), weet ons boere is optimiste en dis hoekom hulle in die landboubedryf is. “Wanneer jy byvoorbeeld jou prysvooruitskattings doen, wees maar bietjie aan die konserwatiewe kant, want daar is risiko's wat dit betref.
“Byvoorbeeld, soos ek genoem het in die graanbedryf (is daar) internasionale druk op pryse wat nog van toepassing is en natuurlik ook aan dieselfde kant met insetkoste, begroot dalk net so bietjie meer as wat jy aanvanklik sou begroot het om voorsiening te maak vir insetkostestygings,” stel Maré voor.
As die boer ’n bank sou nader vir ’n lening, verduidelik Maré, dan pas die bank “sogenaamde haircut maatreëls toe om seker te maak dat wanneer die ergste gebeur dat die boer darem nog ten minste in die vermoë is om sy korttermyn verpligtinge na te kom”.
Silwer randjie
Landbou is een van die sektore wat bekend is vir hoe siklies hy kan wees. Een seisoen sal dalk gevul wees met droogte en veesiektes, terwyl die volgende seisoen weer hoop bring met goeie pryse en reën. “So, ek dink wat belangrik is, is net om in ag te neem die landbousektor is in die bedryf om voedsel aan 'n groeiende bevolking te voorsien. So, ons gaan ten minste altyd verbruikers hê vir ons produkte,” beklemtoon Maré.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Elsabé Richard-May
