On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Weerkundige waarsku: Laat reën moontlik, maar warmer toestande wag

───   ELSABÉ RICHARD 12:29 Fri, 13 Mar 2026

Weerkundige waarsku: Laat reën moontlik, maar warmer toestande wag | News Article
Ligte reën kan nog dele van die Noord-Kaap, die Wes-Vrystaat en die Oos-Vrystaat voorkom. Foto: Freepik

Hoewel slegs ligte reën op kort termyn verwag word, kan weerpatrone in die komende maande steeds ’n belangrike rol in die landbousektor speel.

Die landbouweerkundige Johan van den Berg voorspel ligte reën tot omstreeks Vrydag (20/3) oor dele van die Noord-Kaap en die Wes-Vrystaat. Neerslae kan ook oor die Oos-Vrystaat en verder ooswaarts kan voorkom. 

Hy sê die somergraangebiede kan dus nog reën ontvang, maar die weste sal waarskynlik droër bly. Die kwik kan intussen begin styg ná die laaste tyd se koeler nagtemperature. 

Voorlopig is daar geen aanduiding van ryp die volgende twee tot drie weke nie. Die eerste skadelike ryp word eers einde April tot middel Mei verwag.

‘Daar is egter sterk aanduidings dat ’n El Niño-verskynsel teen die middel 
van die winter, rondom Junie en Julie, kan ontwikkel’

Op langer termyn speel die swak La Niña-verskynsel steeds ’n rol, al is dit reeds aan die afneem. Van den Berg verduidelik La Niña kan dikwels laatseisoenreën meebring, wat beteken dat reën nog in April of selfs Mei kan uitsak. Die verskynsel beweeg egter geleidelik na meer neutrale toestande namate see-oppervlaktemperature in die Sentraal-Stille Oseaan nader aan die gemiddeld beweeg.

Daar is egter sterk aanduidings dat ’n El Niño-verskynsel teen die middel van die winter, rondom Junie en Julie, kan ontwikkel. Volgens Van den Berg is dié verskynsel bekend vir sy warmer temperature en droër toestande, veral tydens die somermaande van November tot April.

Hy waarsku die kombinasie van El Niño en klimaatsverandering kan moontlik tot hemelhoë temperature in die volgende seisoen lei. Sekere dele van Sentraal-Suid-Afrika het reeds vanjaar ’n voorsmakie van sulke hitte ervaar.

Beplan vir toestande wat voorlê

Van den Berg meen boere moet die huidige tydperk gebruik vir beplanning. Droër toestande kan druk op weidings plaas, veral aangesien heelparty produsente reeds met groot veekuddes sit weens uitdagings soos bek-en-klouseer, wat die bemarking van vee bemoeilik het.

Vir graanprodusente sal waterbewaring en goeie grondbestuur ál belangriker word, sê hy. Praktiese bewaringspraktyke kan help om vog in die grond te behou en die moontlike uitwerking van droër toestande in die komende seisoene temper.

OFM Agri/Elsabé Richard May sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.