On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Goliat van Gat-pampoenfees lewer swaargewig

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 19 Mar 2026

Goliat van Gat-pampoenfees lewer swaargewig | News Article
Wykus Lamprecht met sy wenpampoen van 653 kg. Foto: TLU SA

Die 22ste Goliat van Gat-pampoenfees en pampoenkweek-kompetisie was ’n wegholsukses.

Talle rekords is vanjaar verbeter. Hoewel die gesogte 1 t-mikpunt nog nie bereik is nie, is ’n rekord van 4 342 kg pampoene tydens die kompetisie ingeweeg. In die gees van gemeenskapsdiens word al dié pampoene aan welsynsorganisasies geskenk.

Die wenner van vanjaar se Goliat van Gat-kompetisie is Wykus Lamprecht van Meyerton, met ’n indrukwekkende pampoen van 653 kg en ’n skorsie van 492,3 kg. Lamprecht het ook uitgestaan met ander inskrywings, waaronder ’n tamatie van 1 kg, ’n waatlemoen van 16,2 kg en ’n murgpampoen van 23,8 kg.

Die naaswenner was Pieter Botha van Pretoria met sy pampoen Poeksie, wat 562 kg weeg, terwyl Jacky Smal van Sundra die derde plek behaal het met ’n pampoen wat die skaal onder 549,4 kg laat kreun het.

Heelwat reuse groente was ingeskryf vir die pampoenkompetisie. Foto: TLU SA

Die Goliat van Gat-kompetisie is ’n erkende inweegpunt vir Suid-Afrika omdat dit amptelik by die Great Pumpkin Commonwealth geregistreer is. Die wenners en gewigte word saam met die uitslae van pampoenkweek-kompetisies wêreldwyd in die organisasie se databasis opgeneem.

Ongeveer 2 500 besoekers het die pampoenfees bygewoon. Die feestelike atmosfeer was verder versterk deur prettige aktiwiteite soos pitspoegkompetisies en ’n pampoenresies. Wenners is ook in die afdelings pampoenbier, -piekel en -tert aangewys.

Die pampoengeregte-kompetisie is beoordeel deur kenners van Steyn’s Cullinary School in Hatfield, Pretoria, saam met Willie Strauss, tuiskok en radiopersoonlikheid. Die beoordelaars het groot lof uitgespreek vir die kreatiwiteit en gehalte van die geregte.

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.