Agriculture
BKS-gevalle neem steeds toe in Sentraal-SA─── ELSABÉ RICHARD 10:30 Thu, 19 Mar 2026
Positiewe gevalle van bek-en-klouseer (BKS) neem steeds toe in Sentraal-Suid-Afrika, terwyl die nasionale regering pogings verskerp om die verspreiding daarvan te keer.
Volgens die Vrystaatse departement van landbou, staan bevestigde BKS-gevalle op 396 nadat nóg tien aangeteken is: een elk by Boshof/Bultfontein, Reitz/Lindley, Vrede/Memel, Smithfield/Rouxville en drie elk by Bethlehem en Marquard/Senekal.
Uitbrekings is aktief in sewentien van die provinsie se plaaslike munisipaliteite. Die Moqhaka-munisipaliteit bly die swaarste getref met 81 gevalle, gevolg deur Ngwathe se 69 en Metsimaholo se 46.
In Noordwes is 179 uitbrekings aktief. Die provinsiale landboudepartement sê die distrikte met die meeste gevalle is Dr Kenneth Kaunda met 58, Dr Ruth Segomotsi Mompati se 35 en Ngaka Modiri Molema se 33.
“Die toename in gevalle dui op die meedoënlose vordering van die siekte en die dringende behoefte aan 'n verenigde reaksie, met die regering, boere en gemeenskappe wat kragte saamsnoer om die veesektor en die ruggraat van die streeksekonomie te verdedig,” sê die departement in ’n onlangse opdatering oor die siekte.
Die Noord-Kaap was lank die enigste BKS-vrye provinsie, maar verlede maand is ’n positiewe geval in die Kuruman-omgewing aangeteken. OFM Nuus wag op terugvoering van die provinsiale landboudepartement oor of nog moontlike gevalle aangemeld is.
Streng voorkomings-, vroeëopsporings- en inperkingsmaatreëls is intussen in ooreenstemming met nasionale beleid ingestel om die uitbreking in dié uitgestrekte provinsie te bestuur.
Provinsies ontvang entstowwe
Die minister van landbou besoek verskeie provinsies waar hy die inentingsveltogte teen BKS lei. Op besoek aan die Vrystaat het John Steenhuisen benadruk die regering se doelwit is om teen Desember reeds 80% van die land se kudde ingeënt te hê.
Twee en ’n half miljoen entstowwe is reeds teen begin Maart ingevoer uit Argentinië en Turkye om te help om dié plan ’n realiteit te maak. Tot 5 miljoen dosisse sal vandeesmaand beskikbaargestel word.
Steenhuisen belowe geen boer sal agtergelaat word nie. Hy gee ook die versekering dat die regering die BKS-entstowwe befonds om die landbousektor te beskerm. Die Vrystaat sal intussen 195 000 van die reeds ingevoerde entstowwe ontvang, Noordwes kry 50 000 en die Noord-Kaap 35 000.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
OFM Agri/Elsabé Richard-May
