Agriculture
Bek-en-klouseer-hofsaak gaan hooggeregshof toe─── ISABEL VAN TONDER 08:43 Sat, 21 Mar 2026
Vrystaat Landbou (VL), Sakeliga en Saai se dringende aansoek teen die regering sal Dinsdag (24/3) aangehoor word in die Pretoria-hooggeregshof.
Die organisasies vra die regering moet verhoed word om die privaat verkryging en toediening van bek-en-klouseer-entstowwe te keer. Die verhoor op 24 Maart handel oor die eerste fase van die aansoek.
Dit is ‘n interdik wat gevra word om die staat te verhoed om private persone en entiteite te verhinder om vee geregistreerde of goedgekeurde bek-en-klouseer-entstowwe toe te dien.
“In die aansoek word ook gevra dat die staat nie in kontraktuele ooreenkomste tussen wettige enstof-invoerders en hul verskaffers inmeng nie,” sê Francois Wilken, president van VL.

Bek-en-klouseer veroorsaak enorme ekonomiese verliese landwyd. Foto: Landbou Wes-Kaap
Hy bevestig die partye het die afgelope week aan mediasie deelgeneem wat gelas is deur die hof. Wilken sê dit was onsuksesvol en die saak sal nou op ’n dringende grondslag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.
Al die hofstukke is reeds deur die betrokke partye geliasseer, met die uitsondering van die minister van landbou se bevestigende, beëdigde verklaring wat nog uitstaande is. ‘n Hersieningsaansoek, wat die tweede fase van die proses is, sal later volg.

Indien die aansoek slaag, sal boere onmiddellik hul eie vee kan inent. Foto: Pexel
Met die hersieningsaansoek sal probeer word om bevestiging te kry dat geen wetlike belemmering bestaan wat vee-eienaars verhoed om entstowwe toe te dien nie, of dat enige belemmering tersyde gestel word.
Die minister het versuim om ‘n wetlike grondslag te verskaf vir sy verbod op die privaat verkryging en toediening van bek-en-klouseer-entstowwe, sê VL.
Landbou-amptenare se inmenging het reeds groot onsekerheid en beduidende produksieverliese in die landbousektor veroorsaak.
VL benadruk niks in die aansoek sal die minister of ander amptenare verhoed om hul wetlike pligte na te kom of om die siekte te beveg nie.
Indien die aansoek egter suksesvol is, sal boere en vee-eienaars onmiddellik in staat wees om hul eie beeste – en ander vee – met hul eie hulpbronne te laat ent, en die verslagdoeningsvereistes na te kom.
“Dit bly onverklaarbaar waarom die minister ‘n benadering teenstaan wat die staat en die privaatsektor in staat stel om sáám die siekte te kan bekamp,” sê Wilken.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

