On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

BEK-hofuitspraak: Minister moet inentingsplan voorlê

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 27 Mar 2026

BEK-hofuitspraak: Minister moet inentingsplan voorlê | News Article
Vrystaat Landbou en Saai verwelkom die uitspraak van die hooggeregshof. Foto: Pexel

Vrystaat Landbou (VL) verwelkom ’n dringende uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria oor bek-en-klouseer-inentings.

Die uitspraak verplig die minister van landbou en landelike ontwikkeling om ’n skema te finaliseer wat privaat inenting teen bek-en-klouseer sal toelaat. Dis ’n groot afwyking van die departement se vorige standpunt.

“Tot vandag toe het die minister privaat inenting teengestaan en onder eed volgehou dat slegs staatsgerigte inenting deur gemagtigde amptenare toegelaat word.”

In ’n hofvoorlegging ter elfde ure is ’n konsepskema egter ingedien wat, vir die eerste keer, voorstel dat privaat inenting onder leiding van privaat veeartse en sonder direkte staatstoesig uitgevoer mag word.

“Hierdie skielike verskuiwing bevestig wat ons heeltyd aangevoer het, naamlik dat daar geen wettige basis is om die privaat sektor se deelname aan bek-en-klouseer-inenting te voorkom nie,” sê Francois Wilken, VL-president.

Die minister staan private inenting teen en die mening word nou in die hof uitgedaag. Foto: Pexel

“Die langer as drie maande sedert die landboubedryf probeer het om die departement met die inhoud van die inentingskema te help, was onbekostigbaar duur,” sê hy. “Honderde melkerye, stoettelers, kommersiële kuddes en kleinskaalse boere sit met verliese waarvan hulle nie … kan herstel nie.”

Saai verwelkom die streng sperdatums, voor die uitgestelde hofdatum, wat aan die minister gestel is. As hy ’n skema wil promulgeer, moet dit voor 17 April gebeur, sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die saak het Dinsdag (24/3) in die hof gedraai nadat die minister nie kon sê wat die regsgronde is vir sy aandrang dat alle aspekte van die inentingsveldtog deur die staat beheer moet word nie.

“AgriSA neem kennis van die uitslag van die hooggeregshofsaak oor bek-en-klouseer en beklemtoon dat die uitspraak gerespekteer moet word,” sê Willem de Chavonnes Vrugt, president.

“Dit is egter betreurenswaardig dat die saak hofingryping vereis het tydens ’n dieregesondheidskrisis, wat die fokus van gekoördineerde siektebeheerpogings afgelei het.”

VL sê die konsepskema is ’n stap in die regte rigting, maar dit wek kommer. Bepalings wat entstofverkryging sentraliseer en breë diskresionêre magte aan die minister verleen, skep ’n risiko om dieselfde beperkings te laat voortduur wat reeds ernstige ontwrigting in die landbousektor veroorsaak het.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.\

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.