Agriculture
Kinders kan al kleintyd met hoenders boer, sê pluimveeteler─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 02 Apr 2026
Hoenderboerdery kan vir kinders vanaf ’n jong ouderdom veel meer beteken as net ’n stokperdjie.
Hoenderboerdery bied nie net die geleentheid om sakgeld te verdien nie, dit kan ook die eerste tree wees na ’n toekomstige loopbaan in die landboubedryf.
“Heelwat jong mense is deel van die aanlyn klub wat vir pluimveeboere gestig is. Die klub het tans 22 jeuglede onder 18 jaar,” sê Zandri Erasmus, pluimveeboer en teler van Bloemfontein.
“Klublede het soveel mooi rasse, nie net hoenders nie, maar ook ganse, eende en makoue.”
Kinders kan van jongs af verantwoordelikheid leer met ’n klein hoenderboerdery, asook die waarde van dissipline, tydsbestuur en toewyding. Nog ’n voordeel van so ’n projek is dat kinders leer om entrepreneurs te wees wat tot welkome sakgeld kan lei.
‘’n Klein hoenderboerdery kan vir enige kind ’n aanwins wees’
“ ’n Klein hoenderboerdery kan vir enige kind ’n aanwins wees. Ons het onlangs ’n inskrywing vir ’n aanlyn kompetisie gekry van ’n kind wat gestremd is. Sy het Silkie-hoenders en een van haar hennetjies het tien kuikens gehad. Sy het self die inskrywingsgeld betaal.
“Die aand tevore het sy haar hoendertjies mooi gebad en drooggeblaas. Die volgende dag, toe sy foto’s moes neem vir die kompetisie, is nege van die tien kuikentjies gedurende die nag gevang. Sy het net een kuikentjie oorgehad en moes oortuig word om verder aan die kompetisie deel te neem.

Hoenderboerdery leer kinders verantwoordelikheid en 'n liefde vir diere. Foto: Pexel
“Die kind is so oulik met haar hoendertjies. Sy kan dalk nie praat nie, maar sy praat met haar diere,” sê Erasmus. “Enigeen kan met hoenders boer en geen geleerdheid of graad is nodig daarvoor nie.”
Erasmus sê sy het na afloop van die kompetisie die kind gehelp om goeie teelhoenders in die hande te kry en op te lei in die versorging van haar hoenders.
Slegs een hen en haan is genoeg vir ’n begin
Een van die uitdagings om met ’n hoenderboerdery te begin behels gepaste hokke wat behoorlik beveilig is sodat ongediertes nie by die hoenders kan uitkom nie. Dit is nie nodig om in duur rasse te belê nie. Slegs een haan en hennetjie is genoeg om mee te begin.

Kinders en ouers moet ook bewus wees van die uitdagings van 'n klein hoenderboerdery. Foto: Zandri Erasmus
Medikasie kan duur wees, maar solank daar behoorlik na hulle omgesien word, is die kans skraal om siektes op te doen.
Erasmus moedig voornemende jong hoenderboere aan om pluimveeskoue by te woon, bestaande pluimveeboere te besoek en die ras te leer ken waarmee hulle wil boer.
’n Hoenderboerdery kan met selfs ’n klein begin, groot moontlikhede inhou.
OFM Agri/Isabel van Tonder cvdw
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

