Agriculture
Tydelike verlaging in brandstofheffing ‘welkome verligting’ – AgriSA, Agbiz─── ELSABÉ RICHARD 10:33 Thu, 09 Apr 2026
AgriSA en die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) sê hulle bly verbind tot samewerking met die regering en belanghebbendes sodat die landbou staande kan bly ondanks geopolitieke onsekerheid.
Die organisasies steun die regering se aankondiging van ’n tydelike verlaging in die algemene brandstofheffing. Dit is ’n belangrike verligtingsmaatreël op kort termyn in reaksie op stygende brandstofpryse, meen hulle.
Die R3/L-verlaging vir April kom op ’n belangrike tydstip, aangesien wisselvalligheid in die wêreldenergiemark weens die oorlog in die Midde-Ooste druk op sowel verbruikers as produsente plaas. Danksy die verlaging in die heffing het diesel slegs met tussen R7,37 en R7,51 per liter gestyg, en nie meer as R10 soos aanvanklik verwag nie.
’n Voorwaardelike twee week lange skietstaking tussen Amerika en Iran is intussen aangekondig, wat hopelik die weg sal baan vir ’n langdurige wapenstilstand in die oorlog, wat die VSA en Israel op 28 begin het.
Iran sê hy sal olietenkskepe toelaat om deur die Seestraat van Hormoes te vaar. Dis ’n noodsaaklike waterweg waardeur ’n vyfde van die wêreld se olie vervoer word.
Hoër brandstofpryse lei tot hoër voedselpryse
Volgens AgriSA en Agbiz dra stygende brandstofkoste reeds by tot hoër voedsel- en vervoerinflasie en hou dit groter gevolge in vir die ekonomie. Uit ’n landbouoogpunt is die ingryping besonder betekenisvol, sê hulle, aangesien dit na raming sowat R6 miljard se verligting aan die land en sy verbruikers bied.
Brandstof bly ’n kern-inset oor die hele landbouwaardeketting en ondersteun aktiwiteite soos produksie op plase, besproeiing, oes, verwerking en logistiek. In baie boerderystelsels maak brandstof tussen 12% en 18% van die produksiekoste uit, wat koste kan opjaag tydens prysonstabiliteit.
Die organisasies sê die verligtingsmaatreël sal help om onmiddellike kostedruk te verlig en kan op kort termyn nog stygings in voedselpryse help demp.
Brandstofpryse nie die enigste probleem
AgriSA en Agbiz waarsku die landbousektor se uitdagings strek verder as net brandstofpryse. Gesprekke met boere en brandstofverskaffers dui op ’n kombinasie van stygende koste, voorsieningsbeperkings en operasionele onsekerheid op plaasvlak.
Dié druk sal na verwagting toeneem tydens die naderende winter- en somergraanproduksietyd, veral aangesien produsente steeds gebuk gaan onder lae winste.
Ander belangrike insette, soos kunsmis, wat tot tussen 35% en 50% van produksiekoste kan uitmaak, verkeer toenemend onder druk weens wêreldwye voorsieningsversteurings en geopolitieke risiko’s.
Dit plaas verdere druk op produsente en verhoog die sektor se kwesbaarheid vir verdere skokke.
OFM Agri/Elsabé Richard-May sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
