Agriculture
TLU SA loof kus tot kus projek─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 10 Apr 2026
Die Coast to Coast word geloof as ’n pioniersprojek, wat die geestesgesondheid en algehele welstand van Suid-Afrikaanse boere op die nasionale verhoog geplaas het.
Tydens dié unieke en uitdagende avontuur het ’n span van vier deelnemers per waterponie duisende kilometers van kus tot kus afgelê om Suid-Afrika se aandag te vestig op boere se uitdagings. “Dit was ’n briljante voorbeeld van hoe avontuurlustige en kreatiewe metodes bewustheid kan skep,” sê Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder.
“Deur die publieke belangstelling, laat dit mense landwyd besef dat boerdery nie net ekonomiese produksie is nie, maar ook ’n lewe vol uitdagings, verantwoordelikhede en soms isolasie.”

Daar word nie altyd aan boere se geestesgesondheid aandag gegee nie. Foto: Coast to Coast 4 Farmers
Die simboliese reis van die oos- na die weskus het deelnemers se uithouvermoë getoets en ook gedien as ’n kragtige voorbeeld van die vasberadenheid en deursettingsvermoë van boere dwarsoor Suid-Afrika.
TLU SA erken boere verkeer vandag onder groot druk. Hulle moet nie net markonsekerheid, stygende insetkoste en ander eksterne invloede hanteer nie, maar ook regulatoriese uitdagings en sosiale druk binne hulle gemeenskappe.
Die geestesgesondheid van boere en hul gesin is dikwels die stil, ongesiene aspek van hierdie druk. Coast to Coast 4 Farmers het gehelp om hierdie noodsaaklike gesprek te begin.
Die projek het boere se stories sigbaar gemaak. TLU SA moedig steeds alle Suid-Afrikaners aan om sulke veldtogte te ondersteun. “Elke deel, elke gesprek, en elke klein daad van ondersteuning dra by tot die skep van ’n sterker en meer veerkragtige boeregemeenskap,” sê Van Zyl.

TLU SA bedank die organiseerders vir die inisiatief van bewustheid. Foto: Coast to Coast 4 Farmers
Die organiseerders het met hul innovasie en toewyding ’n voorbeeld gestel van hoe samewerking, bewustheid en gemeenskapsbetrokkenheid boere kan ondersteun. TLU SA sal steeds sulke pogings ondersteun en altyd stilstaan by en waardeer wat gedoen word om die lewe van Suid-Afrikaanse boere en hul gesinne te verbeter.
TLU SA bedank die span vir hul harde werk, durf en toewyding aan ’n saak wat vir elke boer van die uiterste belang is: die bewaring van geestesgesondheid, veerkragtigheid en die waardigheid van die landbouleefwyse.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

