Agriculture
Neute-en-droëvrugte-skou in China belangrik vir voedselbedryf─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Thu, 16 Apr 2026
Die jaarlikse neute-en-droëvrugte-ekspo in Hefei, China, het ontluik in een van die grootste en invloedrykste voedselbedryfskoue ter wêreld.
Die China Nuts and Dried Fruits Exhibition lok jaarliks duisende belanghebbendes uit die globale waardeketting, van produsente en uitvoerders tot verwerkers, kleinhandelaars en tegnologieverskaffers.
Dit word jaarliks van 16 tot 19 April aangebied en die omvang daarvan is indrukwekkend, volgens die Suid-Afrikaanse pekanneutorganisasie, Sappa. Die uitstalling beslaan sowat 150 000 m² en bestaan uit agt groot uitstallingsale en meer as 20 tematiese dele.
Meer as 2 500 uitstallers uit alle uithoeke van die wêreld neem deel en vertoon meer as 10 000 produkte, wat wissel van onverwerkte neute en droëvrugte tot verpakkingsoplossings en gevorderde voedselverwerkingstegnologie.

Suid-Afrika is een van die grootste uitvoerders van pekanneute. Foto: Isabel van Tonder
Die tentoonstelling lok oor die 100 000 besoekers, onder wie buitelandse kopers, verspreiders en beleggers. Sappa neem deel met ’n uitstalruimte van 132 m². Tien verwerkers het die kans aangegryp om vanjaar deel te wees van die ekspo.
Sappa reël die geleentheid en die verwerkers se stalletjies val onder die oorkoepelende handelsmerk Pecans from South Africa.
Vooraf is deelnemers gemaan geen onderhandelings oor prys sal geduld word nie; net produkte, volumes en diens mag aan voornemende kopers aangebied word. Die skou se doelwit is om die SA pekanneutbedryf bekend te stel.

Die Hefei-skou bied uitsonderlike geleenthede vir Suid-Afrikaanse pekanneutboere. Foto: Isabel van Tonder
Die tentoonstelling is ’n geleentheid vir onderhandelings en verkrygingsessies. Heelwat bedryfpraatjies word aangebied en neigings in verbruik en produksie word bespreek. Dit word beskou as ’n platform om vennootskappe tussen lande en maatskappye te vorm.
Vir die SA bedryf bied hierdie skou uitsonderlike geleenthede aangesien Suid-Afrika reeds een van die wêreld se grootste uitvoerders van pekanneute is en China ‘n groeiende verbruikersmark, sê die vereniging.
Deelname bied die plaaslike bedryf direkte toegang tot die Chinese mark, bou handelsverhoudinge, verhoog handelsmerksigbaarheid en bied markinsig, sê Sappa.
Terwyl wêreldhandel toenemend mededingend raak, speel sulke blootstelling ’n groot rol in die pekanneutbedryf se toekomstige sukses, voeg die pekanneutvereniging by.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
