On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Inligtingsdag onderstreep boere moet hul grond ken

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 17 Apr 2026

Inligtingsdag onderstreep boere moet hul grond ken | News Article
Die kleur van grond bo die watertafel soos waargeneem op die inligtingsdag. Foto: Senwes

’n Produsent se kennis van sy grond soos grondprofiele, reënval en gewasse is noodsaaklik om suksesvol en volhoubaar te boer.

Meer as 150 boere en belanghebbendes het die Sandgrond-ontwikkelingskomitee se inligtingsdag bygewoon op die plaas Springboklaagte by Kroonstad. Die boodskap was duidelik: Boerdery kan nie meer lyk soos tien jaar gelede nie.

Op die dag, ondersteun deur Senwes, het hulle gehoor insette is duurder, pryse bly onder druk en risiko is hoër. Aannames is nie genoeg nie; boere moet meer kennis hê.

Tydens die veldbesoeke is grondprofiele bestudeer en eerstehands gesien hoe belangrik grondkleur en tekstuur is. Die beweging van water in die grondprofiel maak ’n verskil aan bemesting, kultivarkeuses en eindelik die opbrengs.

Sklerotinia wat in hars bewaar is, is vir demonstrasie-doeleindes op die inligtingsdag gebruik. Foto: Senwes 

Sheila Storey van Nemlab, deel van die Nviro Tek-groep, het die sessie ingelui met ’n bespreking oor die voorkoms en lewensiklus van aalwurms en hul uitwerking op gewasproduksie.

Dr. Lisa Rothman, senior dosent en navorser aan die Universiteit van die Vrystaat, het daarop voortgebou deur die rol van planttyd en kultivarkeuse in doeltreffende siektebestuur te beklemtoon. Sy het spesifiek verwys na sklerotinia, ’n skadelike swampatogeen, wat kop- of stamvrot by sonneblomme veroorsaak.

Een van die profielgate op die inligtingsdag wat wortelontwikkeling demonstreer. Foto: Senwes

Die werklikheid van moeilike besluite en die noodsaaklikheid daarvan om meer berekend te boer is uitgestippel tydens ’n paneelbespreking oor stygende insette en prysdruk.

Volgens Danie Minnaar, Senwes-voorsitter, wat boer op Springboklaagte, is dit belangrik om te weet waar die beste produksie gaan wees en daarvolgens te beplan.

Senwes sê produsente was dit eens: Hulle moet meer strategies dink. Dit beteken soms om ’n land te laat rus vir ’n volgende produksiesiklus, alternatiewe gewasse te oorweeg en besluite te neem wat verder as een seisoen strek.

Slim boer gaan nie meer net oor tegnologie of insette nie; dit gaan oor oordeel.

Die inligtingsdag het nie al die antwoorde verskaf nie maar beslis die regte vrae gevra, meen Senwes. Volhoubaarheid sal toenemend bepaal word deur begrip vir ’n boerdery.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.