On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Bloemskou, die hart van landbou en vermaak

───   ISABEL VAN TONDER 08:44 Sat, 18 Apr 2026

Bloemskou, die hart van landbou en vermaak | News Article
Vanjaar se tema vir dié tentoonstelling van 23 April tot 2 Mei is ’n strandpartytjie. Foto: Bloemskou

’n Groot gewerskaf is aan die gang om Bloemskou weer onvergeetlik vir oud en jonk te maak.

Vanjaar se tema vir dié tentoonstelling van 23 April tot 2 Mei is ’n strandpartytjie wat soos ’n vars bries waai deur dié 143 jaar oue skou. Dit is die enigste skou in Suid-Afrika wat landbou- en handelsbedrywighede op so ’n skaal aanbied.

Die byna 350 uitstallers verwag sowat 100 000 besoekers oor die tien dae. Skougangers kan alles van dekor, motors en troeteldiere tot elektronika, buitelugtoerusting en skoonheid verwag,.

Die Pretorius-familie is die 53ste keer terug met hul pretpark wat 33 ritte insluit. Foto: Bloemskou

In die wandellane sal musikante en dansers die skare van vroeg tot laat vermaak. Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Eloff, Brendan Peyper, Jakkals Vibes, Elandré, Snotkop, Ricus Nel en Snotkop sal ook optree.

Besoekers aan die landbouafdeling kan uitsien na die Suid-Afrikaanse Saalperdkampioenskap wat reeds Maandag (20/4) begin. 

Daar is ook die tweede interprovinsiale hoefsmidkampioenskap, die Toyota Veeplaas-jongafslaerskompetisie en plaaswerfstal met uitstallings van pluimvee, sierduiwe en plaasdiere, soos donkies, perdjies, koivisse en stamboomrotte.

Die perde is ’n groot gunsteling by oud en jonk. Foto: Bloemskou

Die Vrystaatse boerboelskou maak ook deel uit van vanjaar se skou. Kom smul aan die spesiale skaapete met afval, skaapkop en bredie. 

Bloemskou skep 1 150 werkgeleenthede en is ’n ekonomiese inspuiting van bykans R50 miljoen. Dit is nog net weens drie gebeure in 143 jaar afgestel – tydens die Tweede Vryheidsoorlog, die Tweede Wêreldoorlog en die Covid-19-pandemie.

Bloemskou beslaan 34 ha met 15 sale  wat die res van die jaar vir ander geleenthede uitverhuur word. Die gemiddelde waterverbruik tydens die skoutyd is amper 4,26 miljoen liter!

Besoek die skou se webtuiste vir nog inligting.

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.