On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA begin jeugboer van die jaar-kompetisie

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 22 Apr 2026

TLU SA begin jeugboer van die jaar-kompetisie | News Article
Die jeugboer van die jaar-kompetisie sluit op 2 Augustus. Foto: Pexel.com

TLU SA brei sy suksesvolle jongboer van die jaar-kompetisie uit deur vir die eerste keer ’n jeugboer van die jaar-kompetisie vir leerlinge aan te bied.

Die projek gee jong mense die geleentheid om reeds op skoolvlak hul ondernemingsgees, kreatiwiteit en verantwoordelikheidsin te ontwikkel deur praktiese landbou- en voedselprojekte. “Die jongboer van die jaar het jaar ná jaar bewys dat dit ’n kragtige platform is om jong mense se talent en innovasie te wys.

“Ons sien ’n groot waarde daarin om hierdie geleenthede na skole uit te brei en kinders van ’n jong ouderdom bloot te stel aan die beginsels van volhoubare landbou en entrepreneurskap,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Alle leerders van gr. 1 tot 12 kan vir die jeugboer van die jaar-kompetisie inskryf. Foto: Pexel.com

Die jeugboer van die jaar-projek is daarop toegespits om kinders se probleemoplossingsvaardighede, kreatiewe denke en verantwoordelikheidsin te ontwikkel, selfs op klein skaal.

Deelnemers kry die geleentheid om te bewys dat boerdery nie net oor groot plase gaan nie, maar oor idees, beplanning en volhoubare aksie wat waarde skep vir hul gemeenskappe.

Dis belangrik dat kinders vroeg leer hoe om idees in praktyk toe te pas en verantwoordelikheid te neem, voeg Van Zyl by. “Hierdie projek is ’n stap om die volgende generasie innoveerders en leiers in die landbou te inspireer.”

Die jeugboer van die jaar-kompetisie vir leerlinge van gr. 1 tot 12 begin vanjaar en beloof om ’n opwindende nuwe platform vir skole en jong mense te wees om hul idees en vaardighede aan ’n wyer gehoor te wys.

Daar is verskeie projekte waarvoor ingeskryf kan word, soos groentetuine en kruietuine. Foto: Pexel

Enige leerder wat ’n praktiese projek volhoubaar en suksesvol kan laat werk met verantwoordelikheid, beplanning en uitvoering van basiese finansiële besluite, kan inskryf. Projekte moet verband hou met landbou, voedselproduksie of volhoubare hulpbronbestuur.

Die idee is ook om waarde te laat skep op finansiële, opvoedkundige of gemeenskapsplatforms. Projekte wat onder meer gebruik kan word, is groentetuine, kruietuine, kleinveeboerdery, byeboerdery, konfyt, droëvrugte, biltong en voedselverwerking.

Die sluitingsdatum is 2 Augustus. Kry nadere besonderhede tlu.co.za op TLU SA se webtuiste.

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Share your agriculture news: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.