Agriculture
Handgemaakte kaas bekroon as SA Suiwelproduk van die Jaar─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 27 Apr 2026
’n Handgemaakte burrata van Puglia Cheese in Somerset-Wes is Donderdag (23/4) by die Nederburg Wynlandgoed in die Paarl as die wenner aangewys.
Die burrata bestaan uit 100% Suid-Afrikaanse melk en het uitgeblink onder die rekordgetal van 1 227 inskrywings van 81 produsente in vanjaar se SA Suiwelkampioenskap – die grootste en oudste suiwelkompetisie in Afrika.
“Ná my onlangse werkervaring in Italië is dit besonder bevredigend dat ’n produk soos Puglia se burrata op hierdie vlak erken word, sê Graham Sutherland, hoofbeoordelaar.
“Dit is ’n ware viering van Italiaanse kaasmaaktradisie, ‘n vars pasta filata-kaas met ‘n delikate buitenste laag en ‘n ryk, romerige binnekant wat balans en weelde bied. Dit vergestalt die essensie van la belle vita.”

Die aantal inskrywings vanjaar toon die innovasie en veerkragtigheid van die suiwelbedryf. Foto: Pexels
‘n Paneel van 130 beoordelaars het die inskrywings oor drie dae beoordeel. Altesaam 122 produkte is as SA kampioene in hul klas aangewys, terwyl 36 produkte met die gesogte Qualité-merk bekroon is.
Die merk is die enigste amptelike erkenning vir uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf. Die Qualité-merk word slegs toegeken aan uitgesoekte produkte van uitsonderlike gehalte wat ‘n spesifieke minimum telling op die internasionale telkaart behaal het.
Die produk wat die hoogste telling behaal, word as Produk van die Jaar bekroon.
Burrata is ’n vars mozzarella-tipe kaas gevul met room en stracciatella, met ‘n sagte buitekant en ‘n ryk, romerige kern, en word by kamertemperatuur bedien.
“Puglia Cheese is in 2010 gestig nadat ons uit Italië verhuis het, met die doel om outentieke hoë gehalte Italiaanse kaas plaaslik te vervaardig,” sê Davide en Ursula Ostini, stigters van Puglia Cheese.
“Hierdie erkenning weerspieël jare se toewyding aan gehalte en respek vir tradisionele kaasmaaktegnieke wat aangepas is vir plaaslike omstandighede.”

Vanjaar was daar 130 beoordelaars. Foto: Pexels
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, weerspieël die uitslae innovasie en veerkragtigheid in die suiwelbedryf. “ ’n Projek van hierdie omvang is slegs moontlik danksy goeie samewerking in die bedryf.”
Hy sê ’n rekordgetal inskrywings en deurgaans hoë gehalte van produkte dui op ‘n mededingende en vooruitstrewende bedryf waar gevestigde en kleiner rolspelers die standaard bly verhoog.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

