Agriculture
Peritum Agri Institute spog met 104 graduandi─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 04 May 2026
Peritum Agri Institute het op sy gradeplegtigheid in Bloemfontein weereens bewys hoekom hy sinoniem is met prestasie, deursettingsvermoë en uitnemendheid.
Die geleentheid het ‘n trotse mylpaal behaal met 104 graduandi wat hul nasionale diploma in diere- of plantproduksie behaal het. Studente, ouers, dosente, vennote en eregaste het saam die volgende generasie landbouleiers in Suid-Afrika gevier.
“Hierdie gradeplegtigheid verteenwoordig meer as net kwalifikasies; dit verteenwoordig die geleenthede, groei en die toekoms van landbou,” sê Emmie Pietersen, een van Peritum Agri se direkteure.
Johann Kotze, uitvoerende hoof van AgriSA, Frikkie Maré, besturende direkteur van die Rooivleisprodusenteorganisasie, en Andrei van Heerden, verteenwoordiger van John Deere, was die gasprekers.

Studente kry praktiese onderrig om ’n rol in die voedselketting te kan speel. Foto: Pexels
Hul teenwoordigheid het die samewerking tussen Peritum Agri Institute en sleutelrolspelers in die landbouwaardeketting beklemtoon.
Kotze se fokus is die belangrikheid van voortdurende aanpassing binne ’n voortdurend veranderde landbou-omgewing. Hy beklemtoon die unieke krag en potensiaal van landboukundiges in Afrika en hul vermoë om te innoveer, te volhard en voedselsekerheid plaaslik en wêreldwyd te bevorder.
Hy moedig graduandi aan om vooruit te dink en toegewyd te bly om ’n betekenisvolle bydrae tot die sektor te lewer.

Studente van die Peritum Agri Institute word met passie die fynere kuns van landbou geleer. Foto: Pexels
Die gradeplegtigheid erken nie net akademiese prestasies nie, maar ook die veerkragtigheid, toewyding en passie wat nodig is om in landbou te slaag. Graduandi is nou toegerus met die praktiese vaardighede en kennis om ‘n betekenisvolle bydrae tot voedselproduksie en volhoubare landboupraktyke te lewer.
Vanjaar se gradeplegtigheid het Peritum Agri Institute se rol bevestig in die ontwikkeling van landboukundigheid wat gereed is om ’n verskil in Suid-Afrika en die wêreld te maak.
Studente is ook weer daaraan herinner dat Peritum Agri Institute as ’n hoër onderrig instelling geregistreer is en nuwe geleenthede vir verdere tersiêre studies bied.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

