Agriculture
Toename in landbou-indiensneming ondanks dreigende risiko’s─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 14 May 2026
Suid-Afrika se landbousektor het die jaar op ’n goeie noot begin.
’n Toename in indiensneming weerspieël verbeterde produksietoestande in groot dele van die land. Plaaswerkgeleenthede het in die eerste kwartaal van 2026 met 3% toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
Dit bring die totale poste in die sektor op 960 000 te staan. Indiensneming was ook 1% hoër as in die laaste kwartaal van 2025.
Die toename in werk is grootliks aangevuur deur gunstige landboutoestande deur die loop van verlede jaar en tot aan die begin van vanjaar, sê Wandile Sihlobo, landbouekonoom. “Die Suid-Afrikaanse landbousektor skep steeds meer werk,” sê hy. Die jongste syfers is “ver bo die sektor se gemiddeld van 799 000 poste”.
Baie van die groei hou verband met groter oeste in veldgewasse, tuinbou en die wynbedryf. Provinsies wat jaarlikse groei in indiensneming aangeteken het, sluit in die Vrystaat en Noordwes in Sentraal-SA, die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Limpopo.
Goeie reënval wat met La Niña-weertoestande verband hou, het beduidend bygedra tot uitgebreide landbouaktiwiteit, voeg hy by. Data van die Oesskattingskomitee wat einde April uitgereik is, toon Suid-Afrika se 2025/26-somergrane- en oliesade-oes sal na verwagting 20,8 miljoen t bereik, 1% hoër as verlede jaar.
“Dié jaarlikse verbetering in die totale oes word ondersteun deur opwaartse aanpassings aan groot graan- en oliesaadgewasse, veral mielies, sojabone en sonneblomsaad,” sê Sihlobo.
Die vrugtebedryf het ook sterk resultate gelewer. Uitvoervolumes van steen- en pitvrugte het met 12% toegeneem vergeleke met verlede jaar, terwyl tafeldruifuitvoer met 3% tot 81,25 miljoen kartonne gestyg het. Die pluimveebedryf het ook baat gevind by laer voerpryse danksy verbeterde mielie- en sojaboonproduksie.
Ten spyte van die rooskleurige vooruitsigte, bly sommige landboubedrywe onder druk. Bees-, suiwel- en varkprodusente worstel steeds met bek-en-klouseer-uitbrekings, terwyl die varkbedryf ook met Afrika-varkpes te doen het.
Sihlobo waarsku die risiko’s kan sowel produksie- en indiensnemingsvlakke in 2027 beïnvloed.
“Die hoër insetkoste soos brandstof en kunsmis weens die Midde-Oosterse oorlog, tesame met ’n verwagte El Niño-droogte, is van die risiko’s wat druk op die sektor kan plaas.”
Stygende kragpryse kan ook verdere finansiële druk op besproeiingsboere plaas, veral dié wat vrugte, groente en veldgewasse plant.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za
