On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA waarsku namens koringprodusente oor handelstoestande

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 18 May 2026

Graan SA waarsku namens koringprodusente oor handelstoestande | News Article
Suid-Afrikaanse koringboere kan nie langer wag vir aansoeke se inwerkingstelling nie Foto: Pexels

Graan SA waarsku teen handelstoestande namate wêreldwye druk toeneem en landboumarkte al hoe meer wisselvallig raak.

Die huidige wêreldtoestande en die stadige reaksie van Suid-Afrika daarop plaas graanprodusente onder toenemende finansiële druk.

Graan SA beklemtoon Suid-Afrikaanse produsente neem nie op ’n gelyke speelveld in wêreldmarkte deel nie, aangesien baie internasionale koringbedrywe beduidende regeringsondersteuning, subsidies en beskermingsmaatreëls ontvang waartoe plaaslike produsente nie toegang het nie.

“Die tariefstelsel gaan daaroor om te verseker Suid-Afrikaanse produsente word nie gedwing om teen swaar gesubsidieerde invoer mee te ding sonder enige doeltreffende plaaslike meganisme om daardie verwringings teen te werk nie.”

Die koringbedryf is onder druk weens die wêreldmarkte. Foto: Pexels 

“Ons het ‘n tariefstelsel nodig wat vir produsente werk en doeltreffend reageer op vinnig veranderende wêreldmarktoestande, sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA. 

“Produsente kan nie eindelose vertragings absorbeer terwyl hulle meeding teen lande wat hul landbousektor aktief ondersteun en beskerm nie.” 

‘n Gesamentlike aansoek deur Graan SA en Sacota om die huidige dollar-gebaseerde verwysingsprys vir koring aan te pas en die langdurige proses van tariefpublikasie te outomatiseer, is reeds in Junie 2024 ingedien – in ’n tyd toe die plaaslike koringbedryf reeds onder ernstige druk was.

Volgens Krige word daar van Suid-Afrikaanse produsente verwag om wêreldwyd mee te ding, maar te dikwels moet hulle dit doen sonder die beleidsreaksie en handelsekerheid wat produsente in mededingende lande geniet.

Hoewel die aansoekproses nou reeds byna twee jaar aan die gang is, wag die bedryf steeds op finale inwerkingstelling.

Gedurende hierdie tydperk het die koringprys verder gedaal, terwyl Suid-Afrikaanse produsente steeds toenemende insetkoste, logistieke druk, infrastruktuuruitdaging, en voortdurende onsekerheid oor handelsbeleid ervaar.

Graan SA sê sy standpunt is nie teen handel nie, maar eerder ten gunste van billike, voorspelbare en reëlgebaseerde handelsregimes wat die strategiese belang van plaaslike voedselproduksievermoë erken en ondersteun.

Graan SA is ten gunste van billike en voorspelbare handelsregimes vir Suid-Afrika. Foto: Pexels

Die organisasie sê Suid-Afrika se koringtariefstelsel is spesifiek ontwerp om verwringings wat deur gesubsidieerde internasionale produksie en abnormale marktoestande veroorsaak word, te verreken eerder as om voedselpryse kunsmatig te verhoog.

Graan SA waarsku ook dat toenemende geopolitieke spanning, uitvoerbeperkings, streekskonflikte en ontwrigtings in verskaffingskettings steeds die belangrikheid van plaaslike landbouproduksievermoë en die vermindering van kwesbaarheid teen eksterne skokke versterk.

“Lande oor die wêreld heen posisioneer en beskerm hul strategiese landbousektor aktief. Suid-Afrika moet besluit of hy sy eie landbouhandelstoekoms wil vorm of bloot wil voortgaan om op magte buite sy beheer te reageer,” sê Krige. 

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.