On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Steenhuisen waarsku klimaatsveerkragtigheid noodsaaklik vir landbou

───   ELSABÉ RICHARD 11:19 Thu, 28 May 2026

Steenhuisen waarsku klimaatsveerkragtigheid noodsaaklik vir landbou | News Article
Jacques du Preez, minister John Steenhuise en Anton Rabe. Foto: Facebook/Hortgro

Veerkragtigheid het ’n “operasionele noodsaaklikheid” vir Suid-Afrika se landbousektor geword.

Die landbouminister het Maandag (25/05) aan die Hortgro-simposium 2026 op Somerset-Wes gesê die toekoms van die sagtevrugtebedryf word herskryf deur klimaatsverandering, swak logistieke infrastruktuur en wisselvallige wêreldmarkte. “Klimaatsverandering is nie meer ’n toekomstige uitdaging vir landbou nie. Dit hervorm reeds vandag produksiewerklikhede.”

Produsente bevind hulle aan die voorpunt van verandering, terwyl onvoorspelbare klimaatstoestande, uitvoerdruk en toenemende buitelandse mededinging die sektor beïnvloed.

Onlangse storms in die Wes-Kaap, veral oor Witzenberg en die Breëriviervallei, is tekens van die toenemende risiko’s waarmee die landbousektor te kampe het. Die regering het die verwoestende weerstoestande tot ’n nasionale ramp verklaar nadat dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes ook deurgeloop het en talle sterftes aangemeld is.

Johan van den Berg, onafhanklike landbou-weerkundige, sê die noordelike dele van die land het reeds sedert laat verlede jaar swaar neerslae gesien. “Ons het gesien die Krugerwildtuin wat baie reën gehad het. Toe het dit oor die sentrale dele afgeskuif. Baie gronde is versadig. Damme loop maande al oor.

“En toe het ons van die einde van April swaar reën oor die Noord-Kaap gesien en die eerste week of twee, eers in die Oos-Kaap en toe in die Wes-Kaap.”  

Steenhuisen sê die storms het groot skade aan boorde, infrastruktuur en plaaslike gemeenskappe veroorsaak, terwyl dit ook druk op kragvoorsiening en koelbergingsgeriewe geplaas het gedurende ’n belangrike uitvoertydperk vir die appel- en peerbedryf.

Sagtevrugteboere is besonder kwesbaar, het hy gesê, omdat hulle sterk afhanklik is van stabiele besproeiingstelsels, betroubare winterkoue en streng uitvoergehaltestandaarde.

Ten spyte van die uitdagings het Steenhuisen Suid-Afrika se sagtevrugtebedryf beskryf as een van die land se mees mededingende landbousektore, wat meer as 302 000 werksgeleenthede in landbou en landbouverwerking ondersteun. Die bedryf dra ook by tot ’n breër tuinbou-ekonomie ter waarde van meer as R147 miljard landwyd.

Innovasie en navorsing sal ’n belangrike rol speel om produsente te help aanpas by veranderende omstandighede, het die minister beklemtoon. 

Tegnologie soos datagedrewe besproeiingstelsels, biologiese beheermaatreëls, digitale naspeurbaarheidsplatforms en logistieke optimalisering is volgens Steenhuisen belangrik om die bedryf se toekomstige mededingendheid te versterk. “Innovasie is nie meer opsioneel nie, dit is die grondslag van volhoubaarheid”.

OFM Agri/Elsabé Richard-May sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.