Agriculture
Swaar reën, bibberweer hou uitdagings in vir produsente─── ELSABÉ RICHARD 10:12 Fri, 29 May 2026
Swaar reënval die laaste paar maande oor groot dele van Suid-Afrika het unieke toestande geskep wat produsente landwyd raak.
Die buitengewoon nat toestande het reeds laat verlede jaar begin toe swaar neerslae oor die noordelike dele van die land uitgesak het. “Ons het geweldige hoeveelhede reën hierdie jaar gesien,” sê Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.
“Dit het in November en Desember in die noordelike dele van die land begin, en later oor die sentrale dele afgeskuif.” Swaar reën het teen einde April ook die Noord-Kaap bereik, waarna die Oos- en Wes-Kaap swaar neerslae gekry het.
Landerye is reeds versadig terwyl damme in verskeie gebiede maande lank oorloop, voeg hy by. “Ek dink nie daar is tans nog ’n deel van die land wat droog is nie”.
Hoewel die huidige toestande waternat is, waarsku Van den Berg dat die situasie later vanjaar drasties kan verander wanneer ’n nuwe weerverskynsel sterker begin ontwikkel.
“El Niño klink altyd of dit net droogte beteken, maar dit kan soms nog reën bring. Dit lyk egter of ons van November af baie droë en warm toestande gaan kry wanneer El Niño begin inskop.”
Produsente moet reeds nou begin beplan vir moontlike uitdagende somertoestande later in die jaar, meen hy.
Bitter koue en ryp op pad
Die eerste week van Junie kan besonder koue toestande vir dele van die Vrystaat en Noord-Kaap inhou. Temperature in gebiede soos Zastron kan tot -5 °C daal, terwyl Bloemfontein temperature van tussen 0 en -2 °C kan ervaar.
Reën word omstreeks 5 en 6 Junie verwag. Van den Berg maan dit kan lei tot gevaarlike toestande vir veeboere. “Die baie koue toestande en die reën skep gevaarlike omstandighede vir veeboere, veral kleinveeprodusente.”
Graanprodusente moet ook versigtig wees en seker maak dat geen oop graan gedurende dié tyd op lande agterbly nie.
Suid-Afrika het reeds ’n vroeë winter begin ervaar, maar die koudste deel van die seisoen lê waarskynlik nog voor. “Gewoonlik is die tweede deel van die winter kouer as die eerste deel. Ek dink die winter gaan nog ’n redelike tydjie met ons wees.”
OFM Agri/Elsabé Richard-May sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
