On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Melklintwurms is stille bedreiging in veeproduksie

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 08 Jun 2026

Melklintwurms is stille bedreiging in veeproduksie | News Article
Die melklintwurm wat etlike meters lank word en in segmente afbreek. Foto: Agtag

Die melklintwurm het ’n beduidende invloed op dieregesondheid en kom veral by jong herkouers voor.

Melklintwurms val onder die klas cestode en verskil van ander interne parasiete omdat hulle ’n plat liggaam sonder ’n liggaamsholte of ’n spysverteringskanaal het. Anders as baie ander interne parasiete heg lintwurms aan die dermwand van die gasheer en absorbeer voedingstowwe direk uit die dier se spysverteringskanaal.  

“Die naam melklintwurm het ontstaan omdat besmetting gewoonlik in jong lammers en kalwers voorkom wat nog aan hulle ma’s drink. Dit het niks met melk self te doen nie,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die Bloemfontein Veterinêre Laboratorium.

Siklus

Elke tipe lintwurm het ’n spesifieke siklus. Die melklintwurm siklus begin met ’n volwasse wurm wat leef in die dunderm van ’n herkouer en word ‘n paar meter lank. 

Die volwasse wurm het dan segmente wat afbreek en saam met die stoelgang uitgeskei word. Elke segment bevat duisende eiers wat dan op die grond val.

Die melklintwurm kom voor in die ingewande van jong diere. Foto: Agtag

Die eiers word deur grondmyte geëet wat in die grond leef. Dit ontwikkel dan in ’n myt tot ’n infektiewe stadium en die proses duur ses tot 15 weke. Die myte klim dan op gras waar hulle saam met gras geëet word en so word ’n dier dan weer geïnfekteer en die siklus herhaal.

Klam, matige weer is die beste vir melklintwurms aangesien dit in die besmetlike stadium nogal maklik kan uitdroog as dit nie vinnig in ’n tussengasheer beland nie.

Bester-Cloete sê boere moet oplet as kalwers so twee tot vier maande oud is, maer lyk en swak voorkom, al is daar baie kos. “Ander tekens is ook diarree of los mis, dowwe haarkleed of wol, buikswelling by jong diere en soms sal stukkies melklintwurm ook in die mis opgemerk word.”

Vanjaar is daar baie besmettings met haarwurm en ander rondewurms gesien weens die laat reënval.

“Daar is heelwat behandelingsopsies beskikbaar. Middels wat Praziquantel of Albendazool bevat is wyd beskikbaar in heelwat produkte en baie effektief. Een of twee behandelings voor speentyd behoort voldoende te wees.”


“Melklintwurmbesmetting van vee na die mens is baie skaars en wel behandelbaar. Daar is wel ander genusse van lintwurms wat spesifiek in vark-en beesvleis voorkom, wat wel gevaarlik is vir die mens,” sê sy.

Dit word dikwels onderskat omdat besmette diere nie altyd siek voorkom nie. Hierdie parasiete kan wel ’n merkbare invloed hê op groei, produktiwiteit en winsgewendheid, veral in jong vee.

“Gereelde monitering, toepaslike dosering en goeie bestuur bly die hoekstene van suksesvolle lintwurmbeheer.”

OFM Agri/Isabel van Tonder dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.