Agriculture
Graan SA verwerp ten sterkste koringbesluit─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 22 Jun 2026
Graan SA verwerp die finale uitkoms van die koringtariefwysigingsondersoek ná bevestiging die verwysingsprys vir koring sal onveranderd bly.
Die dollar-gebaseerde verwysingsprys vir koring bly onveranderd op $279 per ton en geen outomatiese snelmeganisme word geïmplementeer nie.
“Ons is nie tevrede met hierdie uitkoms nie en ons aanvaar nie die redenasie waarop dit gegrond is nie,” sê dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA.
“Die besluit weerspieël nie die werklikheid op koringplase oor Suid-Afrika heen nie. Produsente is onder druk weens stygende insetkoste, wisselvallige markte, hoë finansieringskoste, logistieke uitdagings en onregverdige internasionale mededinging.
“Om voor te hou die huidige raamwerk bied voldoende beskerming stem eenvoudig nie ooreen met wat produsente ervaar nie,” sê hy,

Produsente is onder druk weens stygende insetkoste en wisselvallige markte. Foto: Pexels
Die aansoek wat deur Graan SA en die Suid-Afrikaanse Graan- en Oliesadehandelsvereniging (Sacota) ingedien is, het versoek die koringverwysingsprys van $279/ton moet tot $289/ton verhoog word, asook dat ‘n meer doeltreffende meganisme ingestel word om vertragings tussen tariefsnellers en implementering aan te pak.
Geen van die versoeke wat deur die bedryf ingedien is, is goedgekeur nie.
Graan SA sal nou alle beskikbare moontlikhede ondersoek om die besluit teen te staan en sal voortgaan om te veg vir ‘n billike, werkbare en ekonomies realistiese koringtariefbedeling.
Graan SA is veral bekommerd die huidige beleidsbenadering gaan die gehaltestrategie ondermyn wat Suid-Afrika se koringbedryf hard gewerk het om te handhaaf.
Suid-Afrikaanse koringprodusente produseer hoëgehalte koring wat deur meulenaars en verwerkers hoog aangeslaan word. Daar word van produsente vewag om gehalte te lewer, maar die prysomgewing ondersteun nie die bykomende koste en produksierisiko wat met dié gehalte gepaardgaan nie.
Graan SA is veral teleurgesteld dat die aansoek deur die National Chamber of Milling teengestaan is, terwyl dié bedryf direk afhanklik is van gehaltekoring wat deur die Suid-Afrikaanse boere geproduseer word.

Graan SA is veral teleurgesteld dat die aansoek deur die National Chamber of Milling teengestaan is, Foto: Pexels
Daar is ook ‘n waarskuwing vanaf Graan SA dat hierdie uitkoms ‘n verskuiwing weg van hoëgehalte koringproduksie kan versnel, aangesien produsente gedwing word om opbrengs, kultivars en produksiebesluite te prioritiseer wat die beste kans op finansiële oorlewing bied.
‘Billike kans om te oorleef’
Richard Krige, president van Graan SA, sê die vraag is nie of Suid-Afrika kan bekostig om sy koringprodusente te ondersteun nie, die vraag is of Suid-Afrika kan bekostig om hulle te verloor?
“Koringprodusente vra nie vir spesiale behandeling nie, hulle vra vir ‘n billike kans om te oorleef, mee te ding en voort te gaan om voedsel vir Suid-Afrika te produseer.”
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

