On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

TLU SA beklemtoon nuwe landbouminister se verantwoordelikheid

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 03 Jul 2026

TLU SA beklemtoon nuwe landbouminister se verantwoordelikheid | News Article
Volgens TLU SA kyk boere nie na toesprake nie, maar na aksies. Foto: Pexel.com

TLU SA sê in reaksie op Willie Aucamp se aanstelling as landbouminister dit is tyd vir opbouende, toekomsgerigte aksieplanne.

“Landbou funksioneer nie volgens politieke termyne nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder. “Die sektor benodig stabiliteit, beleidskontinuïteit en besluitneming wat die langtermynbelange van voedselproduksie voorop stel. 

“Die uitdagings waarmee produsente gekonfronteer word, wag nie totdat politieke prosesse afgehandel is nie.”

Die kabinetskommeling moet gesien word in die lig van politieke partye se voorbereiding vir die munisipale verkiesing op 4 November, wat ’n uitwerking het op die regering van nasionale eenheid. Hoewel politieke verandering deel van ’n demokrasie is, kan die landbousektor nie die gevolge van politieke onsekerheid en kabinetsverskuiwings verdiskonteer nie, maan Van Zyl.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, wens die nuwe landbouminister sterkte toe. Foto: Kragdag

Volgens TLU SA behoort die onmiddellike fokus op die beheer van bek-en-klouseer te wees. ’n Kollektiewe benadering moet so gou moontlik gevolg word waarin alle beskikbare kundigheid en kapasiteit, in die openbare sowel as die private sektor, benut word om die siekte onder beheer te bring.

“Die uitkoms wat die landbou benodig, is dat markte so spoedig moontlik weer onbevange en doeltreffend funksioneer, veral met betrekking tot bek-en-klouseer,” sê Van Zyl.

Landbou is die bestuur van biologiese prosesse tot by winsgewendheid. Dit is terselfdertyd ’n ekonomiese proses wat eindelik verantwoordelik is vir die strategies noodsaaklike verskaffing van voedsel. 

“Die grootste stabiliseerder in enige land is dat daar kos op mense se tafels is. Daarom mag politieke doelwitte nooit inmeng met die besluite wat nodig is om voedselproduksie te beskerm en uit te bou nie,” volgens van Zyl.

Hy beklemtoon die verantwoordelikheid van die landbouminister strek verder as die hantering van BKS. Vraagstukke soos insetkoste, biosekerheid, eiendomsreg, landelike veiligheid, marktoegang, infrastruktuur en beleidsekerheid vereis ewe veel aandag.

Die veesiekte bek-en-klouseer is die eerste groot uitdaging vir minister Willie Aucamp. Foto: NZ Dairy

Aucamp sal hom deeglik moet vergewis van die toenemende druk wat insetkoste op produsente plaas, sê Van Zyl. Dit is ’n uitdaging wat nie deur die regering alleen die hoof gebied kan word nie. Georganiseerde landbou behoort ’n vennoot te wees in hierdie sake.

“Daar lê ’n uitdagende taak voor. TLU SA wens minister Willie Aucamp alle sterkte toe. Ons lepel vol raad uit georganiseerde landbou is eenvoudig: Boere kyk nie na toesprake nie, maar na aksies.

“Dit is noodsaaklik dat gesonde landboukundige beginsels sal seëvier en dat markkragbeginsels die grondslag sal vorm waarteen alle beleidsbesluite en wetgewing getoets word.”

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.