Agriculture
Braunvieh: Die veelsydige beesras wat waarde toevoeg─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 21 Jul 2026
Braunvieh-beeste is wêreldwyd bekend vir hul veelsydigheid, uitstekende vrugbaarheid en vermoë om onder uiteenlopende klimaatstoestande te presteer.
Dié dubbeldoelras, wat vir vleis sowel as melkproduksie geskik is, kry ál meer aanhang onder Suid-Afrikaanse produsente danksy sy gehardheid, lang produktiewe leeftyd en doeltreffende voeromsettng. Met ’n groeiende klem op winsgewendheid en volhoubare produksie bied die Braunvieh-ras ’n aantreklike opsie vir moderne beesboere.
“Die beesras kom oorspronklik uit die Europese Alpe, waar rekords wys dat die ras al 3 000 jaar gelede reeds saam met mense gebly het. Daar is boeke van daardie tydperk gevind wat met leer van die Braunvieh-vel oorgetrek is. Dit maak hulle een van die oudste suiwer beesrasse in die wêreld.
Die eerste Bruin Switser-beeste is in 1907 vanaf Europa ingevoer, in 1952 is die Bruin Switser-genootskap gestig en in 1929 is die genootskap geaffilieer by SA Stamboek. In die 1970’s het daar wrywing ontstaan omdat sekere telers vir melk wou selekteer en ander vir die dubbeldoel status van die ras.
In 1996 het die registrateur toestemming gegee dat die ras mag verdeel in die Suiwel Switser en dubbeldoel en in 1996 is die naam amptelik verander na Braunvieh – wat die internasionale naam is,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, raadslid van die Braunvieh SA-ras.

Die ras is bekend vir hul goeie temperament en moedereienskappe. Foto: Hanri Bester-Cloete
Die Braunvieh het hoog in die Alpe oorleef vir eeue en is die beesras met die hoogste rooibloedseltellling wat hulle uiters aanpasbaar maak. Die beeste is bekend vir hulle goeie temperament, hulle het uitstaande moedereienskappe, goeie pigment en diep, swart kloue wat sorg dat hoefprobleme baie skaars is.
Die ras het ’n lang lewe en koeie kalf dikwels nog tot op 15-jarige ouderdom, en hulle is uiters vrugbaar. Die Braunvieh-ras is een van die oudste suiwer rasse wat hulle ideaal maak om in kruisteelprogramme te gebruik.

Kalfies van die Braunvieh word wit gebore en verkleur later bruin. Foto: Hanri Bester-Cloete
Die ras is wyd aangepas om in uiteenlopende temperature goed te vaar, vertel Bester-Cloete. “Hulle is goed aangepas om orals in Suid-Afrika soos die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Kalahari asook die berge van die Oos-Kaap en Namibië perfek aan te pas. In die warmer dele verloor hulle hul hare en het dan ’n gladde vel.”
Melkproduksie is steeds hoog en daar is ’n groot fokus op vleisproduksie. Genomiese toetsing wat reeds gedoen is, dui op baie vleiseienskappe, veral vleissagtheid. Dié ras is skoon van die dubbelbespiering-geen wat uitsonderlik is.
“Hierdie beesras het al die eienskappe waarna boere soek: groei, melk, temperament, aanpasbaarheid en pigment – dis die perfekte ras vir iemand wat op klein skaal wil begin boer, of wat ’n gevestigde boerdery wil verbeter.”
Besoek die ras se SA webtuiste vir nog inligting, ook oor die eeufeesvieringsgeleenthede en skoue wat vanjaar plaasvind.
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
