Agriculture
Veldtog teen voorgestelde wysigings aan vuurwapenbeheerwet─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 18 Aug 2026
TLU SA het ‘n nasionale veldtog begin om steun te werf teen die voorgestelde wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens.
Die voorgestelde wysigings hou verreikende gevolge in vir boere, landelike gemeenskappe en wettige vuurwapeneienaars. “Hierdie wetsontwerp raak nie net vuurwapeneienaars nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.
“Dit raak boere, gesinne en landelike gemeenskappe wat daagliks op hul eie verantwoordelikheid vir hul veiligheid en dié van hul werknemers moet instaan. Ons wil verseker dat die regering kennis neem van die omvang van die teenkanting voordat verdere besluite geneem word.
“Die veldtog is daarop gemik om ‘n mandaat van die publiek te verkry wat gebruik kan word wanneer verdere gesprekke en wetgewende prosesse rondom die wysigings plaasvind.”
Die ondersteuning wat ingesamel word, sal gebruik word om TLU SA se verdere optrede en voorleggings oor die voorgestelde wetswysingings versterk.
Volgens van Zyl word daar nie bloot gevra om ‘n naam by die lys te voeg nie. “Ons vra dat daar steun getoon word vir die behoud van wettige vuurwapenbesit en die reg van wetsgehoorsame burgers om hulself, hul gesinne en bestaansmiddele te beskerm.”

TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, is bekommerd oor die voorgestelde wysigings Foto: Kragdag
Dit is belangrik dat die stem van die landbougemeenskap reeds nou duidelik gehoor word, meen TLU SA. Die veldtog is daarop toegespits om die publiek in te lig oor die moontlike implikasies van die voorgestelde wetswysigings en om ondersteuning van Suid-Afrikaners te verkry wat hul teenkanting teen die wetsontwerp wil uitspreek.
Suid-Afrika worstel met onbeteuelde misdaad. “Dit is belangrik dat die staat misdaad bekamp wat tans nie gebeur nie. Plase is op hulself aangewese om hulself te beskerm. Net in Augustus alleen, tot nou, was daar al 14 plaasaanvalle. Dit is belangrik dat landelike gemeenskappe nie so kwesbaar is nie, jy het die reg tot selfverdediging en daarom kan wetsgehoorsame burgers nie ontwapen word nie,” sê van Zyl.
Elke stem tel, sê hy. “Hoe groter die openbare steun, hoe sterker is die boodskap dat wetsgehoorsame burgers verwag om geraadpleeg te word wanneer wetgewing met sulke verreikende gevolge oorweeg word.”
OFM Agri/Isabel van Tonder sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
