Agriculture
Span Suid-Afrika neem vorm aan ná Lamb Champs Bloemfontein─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 02 Sep 2026
Die volgende groot mikpunt vir Lamb Champs is 31 Oktober, wanneer Suid-Afrika en Namibië die eerste keer in Pretoria teen mekaar te staan kom.
Vyf van die tien plekke in Span Suid-Afrika is reeds gevul nadat nog twee Vrystaatse produsente Saterdag (29/8) by Lamb Champs Bloemfontein gekwalifiseer het. Die aandag verskuif nou na Lamb Champs Boland, waar nog twee outomatiese plekke bepaal sal word, voordat kaptein Gawie van Heerden sy drie keuses maak.
Paul van Rooyen van Rouxville het die Bloemfontein-kompetisie met sy Meatmaster-lam gewen. Hendri Punt en Jess Kessel van Dewetsdorp, wat met SAVM-skape boer, was tweede. Albei het daarmee hul plekke in die Suid-Afrikaanse span bespreek.
Vir Van Rooyen was dit boonop ’n besonderse oorwinning. Hy het die eerste voormalige Lamb Champs-wenner geword wat weer ’n kompetisie kon wen.
Janri Brits van Winburg het met sy Merino derde geëindig, gevolg deur Ancois Potgieter van Tweeling, ook met ’n Merino. Danie Cilliers van Philippolis en sy Dorper het die topvyf afgerond.
Die eerste Bloemfonteinse Lamb Champs het 61 familieboere na Toyota Stadion gelok, terwyl sowat 3 000 mense die dag bygewoon het. Die kompetisie beoordeel nie skape volgens voorkoms of stamboom nie. Die vraag is eenvoudig: Wie produseer die lekkerste lam?
Span Suid-Afrika bestaan reeds uit Hennie Jonker, die nasionale kampioen 2025 met sy Hampshire Down; Gerhard en Jani Lourens van Gauteng met Persiese skape; en Daan en Tharin Malan van Bethal in Mpumalanga met Dormers. Van Rooyen, Punt en Kessel sluit nou by hulle aan.
Paul van Rooyen van Rouxville is as wenner in Bloemfontein Lamb Champs aangewys. Foto: Saai
Die Namibiese span word op 18 September in Windhoek aangekondig. Daarna sal die twee lande weet wie op 31 Oktober aan die Lamb Champs Invitational in Pretoria deelneem.
Saai se uitvoerende hoof en Lamb Champs-stigter, Francois Rossouw, sê die Bloemfontein-byeenkoms het gewys hoe die konsep gegroei het van ’n kompetisie oor smaak tot ’n platform waar familieboere direk met verbruikers kan skakel.
Volgens hom gaan dit vanjaar ook om meer as bloot ’n plaaslike titel. Die wenners kry nou die geleentheid om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.
Hendri Punt en Jess Kessel van Dewetsdorp het die tweede plek verower. Foto: Saai
Pick n Pay, wat by Lamb Champs betrokke is, sê die projek moet ook familieboere help om groter toegang tot die mark te kry. Tessa Chamberlain, hoof van strategiese vennootskappe, sê sulke produsente speel ’n belangrike rol in voedselsekerheid en behoort meer geleenthede te kry om hul produkte aan verbruikers bekend te stel.
Die Bloemfontein-program het ook musiek, ’n skaapkop-eetkompetisie, ’n veiling en spitbraaie ingesluit. Besoekers het ná die prysuitdeling by Toyota Stadion gebly vir die Springbokke se toets teen die All Blacks.
Vir Lamb Champs skuif die klem nou egter na Boland en die laaste plekke in Span Suid-Afrika.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
