Agriculture
Produkdiefstal: Stille aanslag op boer en bord─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 07 Sep 2026
Dit het ’n ernstige bedreiging vir die landboubedryf geword en sluit in van vee, graan en groente tot diesel, kunsmis, chemikalieë, medisyne en saad.–
Die landbouwaardeketting het twee noodsaaklike rolspelers: die produsent en die verbruiker. Sonder die boer wat voedsel produseer en die mark wat dit koop kan die res van die waardeketting nie funksioneer nie.
Wanneer misdaad in die landbou ter sprake kom val die soeklig dikwels op veediefstal en plaasaanvalle. Produksie- en insetdiefstal strek egter veel verder. Dit bedreig boerderye se volhoubaarheid en kan uiteindelik ook Suid-Afrika se voedselsekerheid benadeel.
Die omvang van veediefstal alleen is kommerwekkend. Volgens statistieke van die polisie is 25 606 klagtes oor veediefstal in die 2024/25-boekjaar aangemeld, waarby sowat 190 000 stuks vee betrokke was. Die direkte verlies aan beeste, skape en bokke is vir dieselfde tydperk op minstens R880 miljoen geraam.

Diefstal kan op feitlik enige plek in die waardeketting plaasvind. Foto: Pexels
Selfs dié syfers vertel nie die volle verhaal nie. Baie voorvalle word nooit aangemeld nie. Die departement van landbou het in 2025 daarop gewys dat na raming slegs sowat 30% van veediefstalvoorvalle by die polisie aangemeld word.
Die eerste kwesbare punt is die plaas. Vee word uit kampe en krale gesteel, terwyl graan, mieliekoppe, vrugte en groente direk van lande of uit pakhuise verdwyn. Pompe, besproeiingstoerusting, kabels en ander plaasbates word ook geteiken.
Die volgende gevaarpunt is vervoer. Landbouprodukte wat na ’n silo, abattoir, varsproduktemark, koöperasie, verwerker of verspreidingsentrum vervoer word, het aansienlike waarde. Dit maak vragte aantreklik vir georganiseerde misdaad. Hele vragte kan onderskep word, terwyl produkte soms onderweg gedeeltelik afgelaai en gesteel word.

Produkdiefstal kan veral kleiner boere se lewensbestaan ernstig benadeel. Foto: Pexels
Silo’s, pakhuise en koelkamers bevat groot hoeveelhede waardevolle produkte. Dieselfde geld vir landbou-insette soos kunsmis, saad, chemikalieë en veeartsenykundige medisyne.
Ditl kan veral kleiner boere se lewensbestaan ernstig benadeel. Sekuriteit word dan ’n noodsaaklike produksiekoste eerder as ’n keuse. Wanneer ’n boer se koste styg en produksie afneem, raak die uitwerking uiteindelik ook die verbruiker deur die hele voedselwaardeketting.
Dit is waarom produkdiefstal nie bloot as ’n plaasprobleem beskou kan word nie. Dit is ’n ekonomiese, gemeenskaps- en voedselsekerheidsprobleem. Elke skaap, mieliekop, krat groente, liter diesel of sak saad wat gesteel word, beteken ’n verlies vir die produsent en die breër waardeketting.
Strenger optrede teen georganiseerde misdaad is noodsaaklik, maar die verantwoordelikheid rus nie net op boere nie. Produsente, vervoerders, verwerkers, handelaars, die polisie en gemeenskappe het almal ’n belang daarby om produkdiefstal te bekamp en die voedselwaardeketting te beskerm.
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

