On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Michael
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Graanprodusente onder ernstige geldelike druk

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 21 Sep 2026

Graanprodusente onder ernstige geldelike druk  | News Article
Produsente het ná opeenvolgende moeilike produksiejare min reserwes oor om die nuwe seisoen te begin. Foto: Bayer

Die ernstige finansiële druk van graanprodusente is tydens NAMPO Kaap in ‘n gesprek tussen Graan SA en landboufinansierders bespreek.

Veral graanprodusente in die Wes-Kaap, spesifiek die Swartland, verkeer onder ernstige finansiële druk. Uit die gesprek het duidelik geblyk verskeie produsente het ná opeenvolgende moeilike produksiejare min finansiële reserwes oor.

Noodsaaklike kapitaalvervanging het agterweë gebly en winsgewendheid is onder geweldige stremming. Dit is veroorsaak deur opeenvolgende moeilike jare, ‘n lae internasionale graanpryssiklus, ‘n ondoeltreffende prysvormingsmeganisme en hoë insetkoste.

Die belangrikste en mees konstruktiewe boodskap was produsente moet so vroeg as moontlik met hul finansierders praat. Daar was ook sterk konsensus dat proaktiewe kommunikasie noodsaaklik is om probleme betyds te identifiseer en moontlike oplossings te ondersoek.

Hoe vroeër produsente oop en eerlike gesprekke met finansierders voer, hoe gouer kan ’n oplossing gevind word. Foto: Britannica

Hoe vroeër produsente hul uitdagings met banke, koöperasies en ander finansiële vennote bespreek, hoe groter is die moontlikheid om realistiese en werkbare oplossings vir hul spesifieke omstandighede te vind.

Insetbedrywe moet ingelig bly oor die werklike omvang van elke situasie, terwyl sterk verhoudings tussen produsente en finansiële instellings as ‘n belangrike deel van die oplossing beskou word.

Finansierders het beklemtoon die huidige uitdagings kan nie deur ’n kombersbenadering aangepak word nie. Elke boerdery se finansiële posisie, produksiegeskiedenis en kapitaalstruktuur verskil en dit beteken ook individuele oplossings.

Graan SA plaas veral klem op die liggingsdifferensiaal-probleem en erkenning word gegee aan veral die afgelope sewe jaar wat moeilik vir produsente was. Foto: Wandile Sihlobo

Graan SA het sy deurlopende pogings om die winsgewendheid en mededingendheid van die koringbedryf  te verbeter, beklemtoon. Dit sluit in werk rondom die liggingsdifferensiaal en ander bedryfsake.

Die gesprek het verder beklemtoon die afgelope sewe jaar was vir baie produsente besonder uitdagend was. Sommige het oor dié tyd bloot gelyk gebreek, terwyl ander geldelik agteruitgegaan het. Dit beteken dat baie produsente die huidige seisoen met aansienlik minder finansiële buffers tegemoetgaan as in die verlede.

Die boodskap aan produsente was eenvoudig: Moenie wag totdat finansiële probleme kritiek raak voordat die gesprek begin nie. Praat vroeg met jou finansierder.

Oop kommunikasie, sterk verhoudings en oplossings aangepas vir individuele boerderye se omstandighede bied die beste kans om deur die huidige uitdagende tydperk te kom en produktiewe boerdery-ondernemings vir die toekoms te beskerm.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.